Local newsNews

50 Goue jare vir Andries en Alta

Andries en Alta vier hul 50ste huweliksherdenking.

Jarelange inwoners van die dorp, Andries (78) en Alta (74) van Wyk, het ’n baie besondere mylpaal in hul lewe bereik en vier vandag (Vrydag) hul 50ste huweliksherdenking.

Die egpaar was albei onderwysers en het saam skool gegee by Laerskool Denneoord, waar die paartjie mekaar ontmoet het.

Andries onthou dat hy vir Alta ’n saamrygeleentheid aangegebied het en vandaar het die liefde behoorlik begin floreer.

Drie jaar later het Andries die ja-woord gevra en hul het ewig trou aan mekaar beloof in die NG Kerk, Brakpan-Wes.

“Die plan was eintlik om ’n tuintroue op my oom se plot in Rand Collieries te hou, maar toe die reën ons planne in die wiele ry moes ons maar ’n ander plan maak,” vertel Alta.

“Maar soos mense sê, as dit reën, is dit ’n geseënde dag en ons is tot vandag toe geseën.”

Lees: Egpaar vier 60ste huweliksherdenking

Die egpaar woon al 47 jaar in dieselfde huis in Dalpark

Hulle is geseën met drie kinders, Christof (44), Adri (40) en dié laatlammetjie, Jaco (34).

Hul is ook dol oor hul kleinkinders waarvan hul ses het, asook hul drie agterkleinkinders.

Dié twee se geheim tot ’n suksesvolle huwelik is net genade van Bo.

“Mens moet net eenvoudig aanhou, uithou en boontoe kyk,” vertel Alta.

Volgens die paartjie gee vandag se jongmense in ’n huwelik net te vinnig moed op.

“Die jongmense gee te maklik in, hulle kan nie net ’n bietjie uithou, vasbyt of dinge probeer uitwerk nie.”

Die egpaar gee graag raad aan die jonger mense as dit by die huwelik kom.

“Geloof is baie belangrik in ’n huwelik.

“Maak seker jul ken mekaar goed voor jul ewig trou aan mekaar beloof en gaan saam kerk toe.”

Benewens hul onvoorwaardelike liefde vir mekaar, het elkeen ook stokperdjies waarmee hul hulself graag besig hou.

Alta brei, hekel, verf en doen ook graag naaldwerk in haar vrye tyd, terwyl Andries homself graag besig hou met houtwerk.

“My pa was ’n boukontrakteur en ek het baie by hom geleer van ’n jong ouderdom af en ek geniet dit tot vandag toe,” vertel Andries.

Die hoogtepunt van Andries en Alta se huwelik, en iets waarop hulle altyd sal terugkyk, is die feit dat hulle saam deur al die swaar en moeilike jare gekom het en dat die liefde altyd oorwin het.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button