In die kollig: Leer vir Anita Jansen van Rensburg ken
Anita Jansen van Rensburg is in die kollig.
Anita Jansen van Rensburg (40) is die kommandoleier van die Saamstaan Voortrekker Kommando. Sy en haar man, André (45), het ’n seun, Justin (11), en die gesin woon in Brenthurst.
• Jy is die kommandoleier van die Saamstaan Voortrekker Kommando. Hoe het jy betrokke geraak?
Ons het twee jaar gelede gekyk na gesinsaktiwiteite, en na ondersoek afgekom op die Voortrekkers, waarna ons aangesluit het en nog nie vir ’n oomblik spyt was nie.
• Is daar nog belangstelling in die Voortrekkers?
Natuurlik, die Voortrekkers is ’n Christelike, moderne, dinamiese organisasie wat fokus op die ontwikkeling van jong Afrikaner leiers.
• Hoekom sal jy ouers aanmoedig om hul kinders by die Voortrekkers te laat aansluit?
Die Voortrekkers is ’n plek waar jy jouself kan wees en waar almal se talente welkom is. Kinders kan hulself uitleef deur kultuur en avontuur in die natuur te ervaar, sowel as om diensbaar te wees.
• Hoe gereeld kom julle bymekaar?
Ons kom een keer per week bymekaar op ’n Vrydagmiddag vanaf 5nm tot 6nm by Laerskool Dalview.
• Wat gebeur tydens jul byeenkomste?
Die kinders herontdek ons taal en geskiedenis op ’n prettige manier en leer om as ’n landsburger op die toekoms te bou.
• Is daar nog iets soos Voortrekkerkampe?
Ja, daar is nog Voortrekkerkampe. Daar is verskeie kampe in elke skoolvakansie, sowel as naweekkampe en spesialisasiesdae. Tydens die kampe leer kinders nuwe vaardighede aan, maak nuwe maats en groei as leiers.
• Is daar kostes aan verbonde om ’n Voortrekker te wees?
Daar is ’n jaarlikse fooi wat betaalbaar is.
• Tot op watter ouderdom kan ’n mens ’n Voortrekker wees?
Daar is geen ouderdomsbeperking nie. Daar is verskeie aktiwiteite waaraan almal kan deelneem en ’n positiewe verskil in ons jeug se lewens kan maak.
• Dink jy die jeug van vandag sal baat vind daarby om by die Voortrekkers aan te sluit?
Definitief, dit is ’n veilige hawe waar kinders bymekaar kom en hulself geniet. Dit is in vandag se tye so belangrik om ons kinders uit die strate te hou en ’n plek te hê waar hulle voel hulle behoort.
• Wat is jou beroep?
Ek is ’n boekhouer.
• Wat doen jy om te ontspan?
Ek spandeer graag tyd met my familie in die natuur.
• Glo jy aan boererate of eerder moderne medisyne?
Ek glo boererate, homeopatiese medisyne en moderne medisyne het alles ’n plek in ons lewe.
• Wat maak jou vies?
Boeliery en manipulasie.
• Beskryf jouself in vyf woorde?
Doelgerig, stiptelik, natuur- en diereliefhebber, oorbeskermend, ongeduldig.
• Persone wat meer inligting verlang kan ’n e-pos stuur aan saamstaanvoortrekkers@gmail.com of 074 474 2248 skakel.
Lees: Voortrekkers skop die jaar op prettige wyse af
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



