Editor's noteLocal newsNews

Just Wheels Motorskou vind die naweek plaas

Alles is slaggereed vir die 10de Just Wheels Motorskou wat die naweek plaasvind.

Harde werk het die afgelope maande agter die skerms plaasgevind om van die 10de skou ’n onvergeetlike een te maak.

“Ons is reg om die uitstallers en die publiek te ontvang en ons glo dat vanjaar se skou sal voortbou op die sukses wat ons die afgelope nege jaar gehad het,” het die organiseerder, Bart Zaayman, gesê.

Die skou, wat jaarliks ten bate van Muriel Brand Skool aangebied word, loop vanjaar ook hand aan hand met dié skool se 50ste verjaarsdag en die dorp se 100ste bestaansjaar.

Die motorskou skop Vrydag af met ’n optog wat om 4.30nm vanaf die klubhuis deur die dorp sal beweeg tot by Muriel Brand Skool.

Die optog sal bestaan uit vlotte en voertuie. Laatslapers wat nog daarby wil inskakel kan ’n e-pos stuur na justwheels@webmail.co.za

Daar is ook pryse, wat geborg word deur Securetech en Vulcania Truck, vir die beste vlot.

Vrydagaand sal daar goeie musiek en lekker eetgoed wees. Vlooimarkstalletjies sal al oop wees en ’n groot kampvuur sal aangesteek word.

Lees: Motorskou ontvang positiewe terugvoering

Saterdagoggend open die hekke om 6vm vir uitstallers en vlooimarkstalletjiehouers. Die publiek kan die skou vanaf 8vm bywoon.

Die 4×4-baan, wat elke jaar ’n groot treffer is en vir baie opwinding sorg, sal vanaf 8.30vm in werking wees.

“Daar sal genoeg eet- en drinkgoed wees en bekende sangers en orkeste gaan deur die loop van die dag optree,” het Zaayman gesê.

“Die ossewa en dorsmasjien sal ook weer daar wees met ’n hele paar ander verrassings wat deur die dag gaan kop uitsteek,” het hy bygevoeg.

Die toegang is R30 per volwassene en R10 per kind. Skouvoertuie kry gratis toegang.

“Ons vra ook mooi dat die publiek ’n blikkie nie-bederfbare kos sal saambring wat aan Solidariteit Helpende Hand geskenk sal word,” het Zaayman gesê.

Persone wat nog navrae wil doen oor vlooimarkstalletjies vir Saterdag kan ’n WhatsApp stuur na 073 296 2047 en vir Vrydag moet ’n WhatsApp gestuur word na 082 263 7567.

Besighede wat nog belangstel in uitstalplek kan vir Zaayman kontak by 083 390 8589.

Lees ook: Jaarlikse motorskou ‘n brullende sukses

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button