Editor's choiceLocal newsNews

VIDEO: Geliefde oud-onderwyser verloor kankerstryd

’n Oud-onderwyser en geliefde inwoner van die dorp, Ina Fouché (54), is Sondagmiddag dood na ’n stryd teen kanker.

Dié inspirerende, lewenslustige en kreatiewe vrou het sedert sy en haar eggenoot, Lukas (57), in 2001 na Brakpan verhuis het, menige inwoners se lewens aangeraak.

Ten spyte van die kankerstryd waarmee sy gewoed het, was sy altyd daar vir dié wat raad, hulp of bystand nodig gehad het.

Sy was vir 27 jaar in die onderwys, waarvan sy die laaste 10 jaar van haar loopbaan aan die Hoërskool Stoffberg verbonde was.

Ina is in 2012 met borskanker gediagnoseer, waarna sy ’n dubbele mastektomie ondergaan het.

Dié dramatiese wending het haar egter nie moed laat verloor nie en sy het dapper gepoog om so normaal as moontlik voort te gaan.

Volgens Lukas was sy daarna tot in 2018 in remissie en het sy voluit gelewe.

“My vrou het ongeveer drie maande gelede ’n epileptiese aanval gedurende die nag gehad en na ’n ondersoek en toetse is daar vasgestel dat die kanker na haar brein versprei het.

Volgens Lukas het Ina bestraling en chemoterapie ontvang, maar het haar toestand, ten spyte van die intense behandeling, vinnig agteruit gegaan.

“Ons het haar by die huis versorg en die laaste ses weke was sy bedlêend,” het Lukas gesê.

Ina is Saterdag op aanbeveling van haar dokter na ’n hospitaal geneem waar sy Sondagmiddag ongeveer 2.45nm oorlede is.

Ina Fouché saam met haar dogter, Jordynn en skoondogter Dominique Fouché (regs).

Lukas het vertel dat sy vrou nooit moed verloor het na haar mastektomie nie.

“Inteendeel, sy het betrokke geraak by Cansa, sy het fondsinsameling gedoen vir vriende van ons wie se kind ’n seldsame siekte gehad het, sy het hekelklasse aangebied en sy het nooit opgehou om haar kreatiwiteit uit te leef nie,” het Lukas gesê.

Lees: Onderwyser wat kankerstryd verloor word vandag begrawe

In 2016 het Nikita Kotze (21), wat toe ‘n matrikulant aan die Hoërskool Stoffberg was, ‘n roerende video gemaak oor die innerlike stryd en die oorwinning wat Ina beleef het, voor en na haar mastektomie.

Nikita wat kuns as ’n vak geneem het, het destyds besluit om die video te vervaardig as deel van ’n projek wat sy moes aanpak.

Sy het vertel dat sy graag kanker wou uitbeeld, omdat kanker deur so baie mense ervaar word.

“Mense baklei elke dag vir net nog een dag, maar soms wen kanker die stryd,” het Nikita in 2016 in ‘n onderhoud met die Herald  gesê.

Byna 4000 mense het sedertdien na die video op YouTube gekyk.

Nikita Kotze (regs) en Ina Fouché het ‘n hegte band gedeel.

Nikita het die week aan die Herald gesê dat “tannie” Ina nou op ‘n beter plek is sonder pyn en lyding.

“Sy het nooit opgehou veg nie en ten spyte van al die  pyn  wat sy verduur het, was daar altyd ‘n glimlag op haar gesig.

“Sy het vir my en soveel ander jongmense, maar ook  volwassenes gemotiveer en geïnspireer. Dit sal ek altyd van haar onthou,” het Nikita gesê.

Volgens haar dogter, Jordynn (23), het haar ma vir haarself doelwitte gestel toe sy aanvanklik met kanker gediagnoseer is.

Ina Fouché saam met haar man en kinders (van links), Jago, Lukas, Jonty en Jordynn.

“Sy het meeste van die doelwitte bereik, maar sy sou graag wou sien hoe haar kleinkinders groot word,” het Jordynn gesê.

Lukas en die kinders het groot lof vir almal wat hulle die afgelope tyd en sedert Ina se dood bygestaan en ondersteun het.

“Ek moet egter vir dr Karen van den Berg uitsonder. Sy was nie net Ina se dokter nie, maar het haar goeie vriendin en steunpilaar geword. Sy het die hele pad saam met Ina gestap,” het Lukas gesê.

Ina laat ook twee seuns, Jago (29) en Jonty (27), en twee kleinkinders, Lucco (2) Lilea (1), na.

Die begrafnis vind môre (Donderdag, 23 Mei) om 2nm vanuit die NG Kerk, Dalpark te Boekenhoutstraat plaas.

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button