Video: Organisasies reik uit na behoeftiges
’n Groot groep behoeftige mense kon Saterdag vir ’n wyle van hul sorge vergeet.
Tutela Gesinsorg en Rata Maatskaplike Dienste het saam met ander instellings en vrywilligers hande gevat om die nood so bietjie te verlig en die dag vir die groep spesiaal te maak.
Sowat 220 mense het vroegoggend in die winterson op die rugbyveld van Laerskool Kommando saamgekom, waar almal koffie en pannekoek en later ook ’n middagete genuttig het.

Die jonger kinders kon ’n springkasteel geniet en deelneem aan ander prettige speletjies.
Voorts is daar ook aan elke persoon ’n kombers oorhandig, asook warm klere.
“Hierdie projek is ’n jaarlikse instelling onder die leiding van Tutela en Rata,” het Hendrik Labuschagne, voorsitter van Tutela, gesê.
Ander organisasies soos, onder andere, Godly Season Brakpan, het vanjaar ook betrokke geraak en tot die sukses van die projek bygedra.
“Ons het skenkings van ons plaaslike kerke, lidmate, besighede, die publiek en ook van kerke uit ander dorpe, soos die Hervormde Kerk Delmas, ontvang,” het Labuschagne gesê.

’n 39-jarige man wat een van die mense was wat die dag geniet het, het gesê dat hy baie dankbaar is vir die kombers en klere wat hy ontvang het.

“Ek slaap in ’n kamer wat baie, baie koud is en daar is nie krag nie.
“Ons kan ook nie vuur maak in die kamer nie. Hierdie kombers gaan my baie help. Ek is ook bly vir die kos wat ons gaan kry. Partykeer eet ek vir twee dae niks nie. Dis baie moeilik om aan die lewe te bly,” het die man gesê.
“My hart is baie bly vir hierdie mense wat omgee vir ons,” het hy bygevoeg.
Lees: Winkelgroep ploeg terug in die gemeenskap
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



