NG Kerk Dalpark Kaléo bring HOOP
Die HOOP bediening is ’n groepsbediening wat op ’n weeklikse basis bymekaarkom.
Dalpark Kaléo gemeente het die behoefte aan ’n ondersteuningsgroep in die gemeenskap raakgesien en onlangs die HOOP bediening op die been gebring.
“Daar is talle mense in die gemeenskap wat geraak word deur die seer van die lewe en dikwels dra mense hul seer alleen en weet nie waarheen om hulle te wend vir ondersteuning nie,” het Estelle van Aardt van die Dalpark Kaléo gemeente verduidelik.
“HOOP (Herstel Ons Omgewing Plaaslik) vorm deel van ons plaaslike uitreike wat ons onmiddellike gemeenskap bedien.
“HOOP streef daarna om herstel en hoop te bring vir die mense van Brakpan en is ’n praktiese uitvloeisel van Dalpark Kaléo se visie om lewens, verhoudinge en gemeenskappe te herstel,” het Van Aardt bygevoeg.
“Een aand ’n week kuier ons saam in groepe en werk saam met groepleiers deur kursusmateriaal wat ontwikkel is om mense te ondersteun in hul pad na herstel.
Lees: Happenings in Brakpan this month
“Ons materiaal is gekies om spesifieke behoeftes in ons gemeenskap aan te spreek,” het Van Aardt verduidelik.
Sy het aangedui dat daar op hierdie stadium drie kursusse aangebied word, naamlik “Grief Share”, “Divorce Care” en “DC4K – Divorce Care for Kids”.
“Grief Share bied hulp, ondersteuning en aanmoediging aan mense na die dood van ’n geliefde. Die kursus is ontwerp om mense te ondersteun in die rouproses en om hul te help om hul lewens te herbou.
“Divorce Care is ’n ondersteuningsgroep vir dié wat deur ’n egskeiding geraak is. In ’n omgewing van begrip en deernis word ondersteuning en leiding gebied. Ons werk deur moeilike kwessies, kry praktiese raad en vind hoop vir die toekoms.
“DC4K vir kinders wat deur egskeiding geraak is, is ’n kindgerigte program met handpoppe en verskeie aktiwiteite wat spesiaal ontwikkel is om kinders te ondersteun en deur die seer van ’n gebroke huwelik te begelei. Hierdie kursus word gelyklopend aangebied vir kinders, terwyl die ouer inskakel by die Divorce Care groep, het Van Aardt gesê.
“Die kursusse strek oor ’n tydperk van 13 weke en ons kom een keer ’n week van 7nm tot 9nm bymekaar.”
Die volgende kursus begin volgende Maandag (19 Augustus).
Dalpark Kaléo nooi almal wat ’n behoefte het om in te skakel by HOOP om deel te word van die program.
Skakel vir Estelle van Aardt (060 506 1575) as jy graag meer wil weet.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



