Editor's noteLocal newsNews

Eienaars van kleinsake ondernemings erg deur inperking geraak

Die finansiële impak op my besigheid is vir my kommerwekkend.

Die algehele landswye afsondering of inperking wat onlangs ‘n werklikheid geword het in Suid-Afrika hou verrykende gevolge vir die land in, en dit is veral klein sakeondernemings wat moet klei trap om kop bo water te hou.

Die Herald het met sommige eienaars van klein sakeondernemings in die dorp gepraat.

  • “Die finansiële impak op my besigheid is vir my kommerwekkend aangesien ek op ‘n `no work, no pay’ basis is en ek het natuurlik verantwoordelikhede wat nagekom moet word,” sê biokinetikus, Isabel Correia.
Biiokinetikus, Isabel Correia.

“As ‘n biokinetikus, wat al vir 20 jaar praktiseer, is dit vir my baie moeilik om nie te werk nie aangesien dit voel asof ek my pasiënte in die steek laat.

“Met kliniese toetse en evaluasies kan ek vir my pasiënte die regte oefeninge in die regte hoeveelhede voorskryf, om hul pyn te verlig of selfs te elimineer.

“Ek kan egter nie hierdie toetse oor die telefoon of enige tegnologiese platform doen nie.

“So dit is vir my onmoontlik om nuwe pasiënte te evalueer en vir hulle rehabilitasie oefeninge voor te skryf,” het Correia verduidelik.

Correia voeg by dat sy nou die kans het om meer tyd in godsdiens te investeer en kwaliteit tyd saam met haar familie te spandeer.

“Ek hou vas aan die woorde van Jeremia 29:11.

“Ek weet wat ek vir julle beplan het, sê die Here. Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle moet hoop vir die toekoms hê.”

Hoe bly jy positief?

Uit elke negatiewe situasie is daar ook ‘n positiewe kant.

  • Petra Kotzé, eienaar van Petra Properties se besigheid het basies tot stilstand gekom toe die nasionale inperking deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is.
Petra Kotzé van Petra Properties.

“As gevolg van die inperking kan ek nie kliënte neem om eiendomme te besigtig nie en ek kan nie nuwe eiendomme op my boeke lys nie,” vertel sy.

“Ek is wel dankbaar vir die kliënte wat gehelp het met foto’s en videos van hulle eiendomme sodat ek dit nog steeds kan bemark.

“Op ‘n positiewe noot sal ek weer kan aangaan met my besigheid na die inperking en aangesien die rentekoers ook gedaal het in die laaste maand, is eiendomme weer meer bekostigbaar vir kliënte.

“Dit gaan wel baie harde werk verg om op te maak vir die tyd wat ek reeds verloor het tydens die inperking,” het Kotze gesê.

Hoe bly jy positief?

Die daaglikse uitsendings van ons kerk hou my positief.

Petra is ook dankbaar vir haar familie en vriende wat haar ondersteun gedurende die tydperk.

  • Mia Dempsey, ‘n inwoner van Rand Collieries is ‘n naeltegnikus en terwyl sy nie kliënte se naels kan doen nie, is daar uit die aard van die saak geen inkomste nie.
Mia Dempsey.

“Genadiglik het my man nog sy inkomste, al is hy net voor die inperking afgedank en maak hy die einde van Junie klaar by sy werk,” vertel sy.

“Ek is ook geseënd met my lojale kliënte en ek is reeds vol geboek vanaf 4 Junie af, so my besigheid sal beslis weer kan aangaan. Gelukkig hoef ek ook nie huurgeld vir ‘n perseel te betaal nie.”

“My man het ook ‘n tuindienste wat as ‘n ekstra inkomste vir ons dien. Ongelukkig kan hy nie gedurende die inperking daarmee voortgaan nie, alhoewel hy sy werkers steeds ‘n gedeelte van hul salarisse betaal.”

Lees: Mense steur hul nie aan inperking

Hoe bly jy positief?

“Ons is baie gelukkig dat ons op ‘n plot bly waar my seun en sy verloofde asook my ma by ons bly.

“Ons kan gelukkig oor en weer bymekaar kuier waar ons ook Woensdae aande steeds ons selgroep aanbied, al is dit net die vyf van ons.”

“As dit nie vir die Here was nie, weet ek nie hoe enige mens positief kan bly nie.”

  • Monique Bothma, ‘n haarkapper in die dorp, vertel dat die inperking haar nie net finansieel raak nie, maar ook emosioneel.
Monique Bothma.

“Dit raak my finansieel omrede my werk nie ‘n noodsaaklike diens is nie wat beteken dat ek geen inkomste kry gedurende die tydperk nie,” vertel sy.

“Dit maak my emosioneel om te weet daar is absoluut niks wat ek met my kwalifikasie kan doen om ‘n inkomste te verdien nie. Dit veroorsaak dat ek soms sit en myself dood bekommer oor die toekoms.

“Ek en my man is gesamentlik die broodwinners van ons huisgesin. Gelukkig verdien hy nog steeds ‘n inkomste gedurende die tydperk.

“Wanneer die inperking verby is gaan ek so gou as moontlik weer aan die werk spring.

“Ek sal minder kliënte op ‘n slag help om te keer dat die virus nie verder versprei nie,’ vertel sy.

Hoe bly jy positief?

“Ek en my man bly positief gedurende hierdie tyd, deur ons vertroue in God te sit.

“Ons is ‘n paar jaar gelede deur baie erger finansiële en emosionele omstandighede en die Here het ons daardeur gedra en vir ons voorsien.

“Daarom sit ons weer ons vertroue in Hom en bly sodoende positief onder omstandighede.”

  • Warren Castles, ‘n inwoner van Brakpan Noord het in Februarie, ‘n maand voor die inperking, sy eie besigheid, WRK Vehicle Maintenance op die been gebring.
Warren Castles.

Sy onderneming is aanvanklik nie as ‘n noodsaaklike diens geklassifiseer nie en die verkoop van onderdele en parte was verbied.

“Ons eerste maand het baie goed verloop, maar die tydsberekening het daarna teen ons getel,” het Castles gesê.

Alhoewel hy geen werkers in sy diens het nie, is sy besigheid die enigste bron vir inkomste vir sy gesin.

“Dit is baie stresvol, aangesien ons geen inkomste verdien het sedert die inperking ingestel is nie.”

“Ek het wel kliënte wat geboek is vir wanneer die inperking verby is, maar vir nou moet ons maar net wag.

Die regering het sedertdien verskeie inperking reëls gewysig sodat meer ondernemings kan funksioneer.

Motorwerktuigkundiges word nou toegelaat om noodherstelwerk te doen vir persone wat noodsaaklike dienste lewer

Hoe bly jy positief?

Die pa van twee het die Herald vertel dat hy die tyd gebruik om op ander aspekte van sy besigheid te fokus.

“Dis belangrik om positief te bly. Dit gee ons ook tyd om met ‘n bemarkingstrategie vorendag te kom en admin uit te sorteer.”

“Dis ook die perfekte geleentheid om op familie te fokus.”

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button