Editor's noteLocal newsNews

Covid-19 beperk ouers se vermoë om kind te help

Karlien is met breinbeserings gelaat toe 'n kombuiskas in Augustus 2018 op haar geval het.

Alhoewel die inperking groot uitdagings gebring het vir die ouers van vier-jarige Karlien Roets, gaan dit onder die omstandighede goed met die kleintjie wat die afgelope byna twee jaar diep in baie mense se harte gekruip het.

Sy word sedertdien dag en nag versorg in haar ouerhuis in Dalview.

Frikkie en Karen Roets het na die ongeluk alles in die stryd gewerp om die beste moontlike sorg vir hul bruinoog dogtertjie te kry en alhoewel Covid-19 ‘n groot opdraande pad veroorsaak het, het hulle nie in sak en as gaan sit nie.

Die Herald het sowat ‘n maand nadat die inperking in werking getree het berig dat alle fondsinsamelingsprojekte, wat vir die jaar in plek was, gekanselleer moes word.

“Ons het onlangs ‘n deeglike uiteensetting gedoen van al Karlien se maandelikse behoeftes en die kostes daaraan beloop R34 000 per maand,” het Karen gesê.

Dit sluit onder ander haar verpleging (24 uur per dag), terapie, doeke en voeding in.

Lees: Ouers van beseerde kind staar groot uitdaging in die gesig weens inperking

“Voorheen kon ons, danksy fondsinsamelingsprojekte, ‘n gedeelte van die kostes dek, maar nou is dit nie meer moontlik nie,” het Karen gesê.

Dit is ‘n ongelooflike groot finansiële las wat op die ouerpaar se skouers lê, maar wanneer hulle klein verbeterings in Karlien se toestand opmerk word alles die moeite werd.

Karen vertel dat Karlien deesdae beslis meer reageer en dit is veral Frikkie wat ‘n baie positiewe uitwerking op haar het.

“Wanneer hy in haar kamer instap en met haar gesels draai sy haar koppie dadelik in sy rigting.

“Sy het ook nou al by meer as een geleentheid regop gesit sonder enige ondersteuning en sy kry dit reg om haar nek te beheer.

“Dit is ook asof sy meer gevoel in haar nek en aan haar skouers het, want wanneer ek aan haar vat is dit duidelik dat sy dit voel,” het Karen gesê.

Sy ontvang ook steeds refleksologie en haar arbeidsterapie sal ook binnekort hervat word.

“Die persoon wat haar refleksologie doen stel ook nuwe oefeninge en metodes op die proef en ek glo dit help ook vir Karlien.

“Ons wil kyk of ons haar na die winter minder afhanklik kan maak van die ventilator waaraan sy permanent gekoppel is,” het Karen gesê.

“Die pad vorentoe, veral nou met Covid-19, lyk maar donker, maar Karlien is ons ligstraal en elke keer wanneer ons ‘n nuwe reaksie of vordering sien, word alles net die moeite werd.”

Enige hulp van die gemeenskap sal waardeer word. Karen kan gekontak word by 074 963 8955.

Lees ook: Valentynsdans ten bate van Karlien Roets

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button