‘Wonderbaba’ skryf vanjaar matriek
Die Oos Rand se ‘wonderbaba’ vier vandeesweek haar 18de verjaarsdag.
In 2004 het Maureen de Kock (65) se verhaal reg oor die land gestrek toe sy op 48-jarige ouderdom uitvind dat sy swanger is.
Dit is nou 18 jaar later en haar dogter, Zcharnel, skryf vanjaar martiek aan Hoërskool Die Anker. Maureen het aanvanklik die dokter besoek om meer uit te vind oor haar konstante moegheid, net om te hoor dat sy reeds 34 weke swanger was.
“Ek het nie gewig op getel of enige ander tekens van swangerskap getoon nie,” het Maureen gesê.
Die nuus het vir Maureen en haar man, Albert (toe 44), stom geslaan. Daar was spekulasie oor of die baba ‘n normale lewe sou lei omdat Maureen reeds in haar oorgangsjare was.
“Ek het geglo dat my kind niks sal makeer nie en styf aan my geloof vasgeklou.”
Zcharnel, na wie daar as die ‘wonderbaba’ verwys word, het Maandag, 7 Februarie, haar 18de verjaarsdag gevier.
Sy dien tans op die skool se leerlingraad en staan op vir boelie in skole. Sy was self as kind dikwels geboelie en daarom staan sy op vir wat reg is.
“Ek kan nie glo dat my kind amper klaar is met skool nie,” het Maureen gesê.
Zcharnel neem graag deel aan netbal en blink ook uit in jukskei. Sy het gedurende die grendeltydperk ‘n liefde vir kos maak ontwikkel en beoog om ‘n loopbaan in gasvryheidstudies na te streef.
LEES OOK:
Reminder: CPF AGM to be held this week
LEES OOK:
Water outages in parts of Ekurhuleni result in supply challenges



