Local newsNews

Tieners word gehok vir ‘n goeie doel

Slaaptyd saam met die viervoetiges was ’n hoogtepunt.

Die Brakpan DBV het die afgelope naweek die tydelike tuiste geword van tweevoetige en nie net viervoetige inwoners nie.

Sowat 84 jongmense van die Dalpark Kaléo Jeuggroep het Saterdag vir diens by die DBV aangemeld en 63 van hulle het Saterdagaand in die dierehokke saam met die diere geslaap.

“Ons Kaléo Jeugkomitee het in die begin van die jaar besluit ons wil die tieners leer terugploeg in ons gemeenskap,” het organiseerder Janene de Beer gesê.

Janene is die jeugwerker van NG Kerk Dalpark Kaléo Gemeente, asook ’n berader by hoërskole Die Anker en Stoffberg.



“Ons het besluit om ons uitreiking te doen by die DBV en hand by te sit waar ons kon.

“Die DBV het ’n beperkte aantal werkers en hulle moet die diere bad en kos gee. Die diere se komberse word twee keer per dag geruil en gewas. Hokke word daagliks gewas en ontsmet. Van die diere wat siek of beseer is, word geïsoleer en verg alternatiewe aandag.

“Daarbenewens word die personeel uitgeroep, inspeksie moet gedoen word en normale kantoorwerk moet behartig word.

“Ons wou graag hul werklas vir een dag verminder en ter selfde tyd ook fondse insamel sodat van die hokke gerestoureer kan word,” het Janene verduidelik.



Lede van die jeuggroep wat deelgeneem het, kon ’n kombers asook ’n handdoek en/of hondekos aan die DBV skenk.

Die tieners het Saterdag vanaf 21:00 tot Sondag 07:00 ’n hok gedeel met ’n vierpotige-vriend, waarvoor hulle ook borgskappe kon insamel.

Drie jongmanne het saam met Stefanie die boerbok, wat in ’n groter kamp aangehou word, uitgekamp.
Stefanie het die hele aand langs hul tent op ’n kampstoel geslaap.

Benewens die oorslaapsessie is die groep ook Saterdag deur personeel van die DBV ingelig oor die werksaamhede van die organisasie.



Almal het ook hand bygesit om die diere, wat op die perseel was, te bad. Slaaptyd saam met die viervoetiges was egter ’n hoogtepunt en het vir ’n paar uitdagings en komiese oomblikke gesorg.

“Sondagoggend was dit egter ’n tevrede groep jongmense wat onwillig afskeid moes neem van die diere waarmee hulle kennis gemaak het.

“Ons kyk almal met nuwe begrip na die werksaamhede van die DBV en is dankbaar dat ons vir ’n klein rukkie ’n verskil kon maak,” het Janene gesê.

Sy het ook drie borge wat die geleentheid moontlik gemaak het bedank: East Rand Toilet Hire het twee mobiele toilette beskikbaar gestel, East Rand Mall vir ’n skenking aan die DBV asook pizzas vir middagete, en Oasis Water Boksburg wat gebottelde water geskenk het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button