Local newsNews

Vrou herstel wonderbaarlik na sy brand

Haar hart het gaan staan en sy het vierdegraadse brandwonde opgedoen.

’n 33-jarige inwoner van Brenthurst se lewe het in Augustus 2016 handomkeer verander toe sy ernstige brandwonde langs ’n braaivleisvuur opgedoen het.

Tog kyk Elsabe Scheepers (33) vandag terug na die onaangename ervaring sonder enige negatiwiteit. Die ongeluk het plaasgevind toe sy by haar broer, Edward Kok, wie in Brakpan-sentraal woon, gaan braai het.

Edward wou aanvanklik diesel oor die vuur gooi om dit aan die gang te kry, maar min het hy geweet dat daar eintlik petrol in die kan was.

Die petrol het dadelik vlam gevat en binne sekondes was Elsabe, wat naby die vuur gesit het, toe onder die vlamme.


LEES OOK: Drugs and gun land duo in hot water


Haar bene, arms en gesig het gebrand en omstanders het water op haar gegooi en die vlamme probeer dood slaan.

Volgens Elsabe het haar hart ook tydens die gebeure gaan staan en was sy na die Life Dalview-hospitaal gehaas, waar sy noodbehandeling ontvang het.

Sy het vierdegraadse brandwonde opgedoen en het aan die Herald vertel dat die pyn onbeskryflik was. Elsabe beskryf die dokter wie haar behandel het as ’n engel uit die hemel.

“Hy het presies geweet wat om te doen en voor my oorplasing het hy selfs vir my gebid. Ek kon glad nie my oë, as gevolg van die brandwonde, oopmaak nie en ek onthou net hoe ek daar moes lê,” het Elsabe gesê.


LEES OOK: Klein kerkie nou weer oop vir die publiek se gebruik


Sy is later die dag na Netcare Union-hospitaal in Alberton oorgeplaas waar sy vir meer as twee weke moes bly en verskeie veloorplantings ondergaan het.

Haar dogter, Lianie (toe 6), was verbied om haar ma te sien. Eers nadat Elsabe ontslaan is, kon sy haar ma sien. My kind se woorde toe sy my die eerste keer gesien het, sal my vir altyd bybly.

“Ek is lief vir mamma, maak nie saak wat nie,” was Lianie se woorde van moed aan haar ma.

Haar ma, Elsabe Kok (55), het gesê: “Dit was vir ons as ouers net so traumaties. Dit was nie lekker om my kind so te sien nie.”

Na die ongeluk het Elsabe besef dat mense nie altyd bewus is daarvan hoe gevaarlik petrol naby ’n vuur is nie.

“Mense moet meer bewus hiervan wees,” het sy bygevoeg.

Maande na die ongeluk het Elsabe besluit dat sy verder wil studeer om ’n verskil in ander se lewe te maak. Sy is vandag ’n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut.

“Dit maak my gelukkig om ander mense beter oor hulleself te laat voel.”

Sy steeds geen gevoel in haar gesig nie en moes oor die jare haar neus, lippe en tande laat reg maak. Sy moet ook sedertdien ’n bril dra en mag nie in die son kom nie.

Elsabe glo dat alles met ’n rede gebeur en dat sy vandag baie sterker is as voorheen.

“Baie mense sê my positiewe gesindheid het my vel weer gesond gemaak, maar ek glo nie dit sou moontlik wees sonder die Here nie.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button