Buks mik nou na sy 10de Comrades
Ten spyte van verkeie struikelblokke het Buks steeds die marathon voor die afsnytydperk voltooi.
Dalview inwoner Buks Saaiman het Sondag sy negende Comrades Marathon voltooi. Dit was ook sy eerste Comrades wat hy weer aangepak het nadat hy in 2019 ’n beroerte gehad het.
Buks en sy gesin het reeds op 26 Augustus na Pietermaritzburg vertrek en hy vertel dat hy sommer net dadelik wou hardloop toe hy daar aankom.
Hy het Sondagoggend om 02:00 opgestaan en homself begin voorberei. Hy was reeds teen 04:00 in die blok vanwaar hy moes wegspring.
“Dit was die wonderlikste gevoel om te weet dat, na al die maande se voorbereiding, was ons uiteindelik daar.”
Aan die begin van die wedloop het dit Buks ongeveer ses minute en 30 sekondes geneem om ‘n kilometer af te lê.
Die 64-jarige se doel was om die Comrades binne 11 ure te voltooi maar weens onvoorsiene struikelblokke was dit egter nie moontlik nie.
Op ongeveer 65km in die marathon in het Buks op die afdraande geval.
“My knieë was nerf af, ek het baie hard geval. Ek het gesukkel om weer op te staan maar gelukkig het iemand my kom op help.”
Buks se lyf was egter seer na die val, sy spiere het ingegee en hy het die res van die marathon moeilik gehardloop.
“My kinders het my al die pad motiveer om aan te hou en deur my pyn te druk.”
Ongeveer een kilometer voor die eindstreep het sy kinders vir hom sy banier gegee waarmee hy die wenstreep op 11 ure en 48 minute oorgesteek het.
“Ek kan nie beskryf hoe dit voel om die wenstreep oor te steek nie,” het hy gesê.
“Ons is baie bly en trots op hom,” het sy dogter Riana van Staden gesê.
“Daar was ‘n stadium dat ons gedink het hy gaan dit nie maak nie, maar toe verras hy ons almal. Ek het met baie mense langs die pad grappies gemaak en gek geskeer om my gedagtes van die pyn af te kry,” het Buks gesê.
Hy vertel dat hy vir nou eers vir sy liggaam luister en rus maar dat hy binne die volgende twee weke weer terug op die pad sal wees.
“My doelwit is om 10 Comrades af te lê en ek dink reeds aan die voorbereiding vir volgende jaar.”



