Nuwe adjunkhoof vir Hoërskool Die Anker
Alyssa Strydom sien uit daarna om die personeel en leerders van Hoërskool Die Anker te leer ken.
In die Strydom gesin van Dalview is daar nie net twee onderwysers onder een dak nie maar beide die man en vrou is adjunkhoofde van skole in Brakpan.
Hoërskool Die Anker het onlangs vir Alyssa Strydom (34) verwelkom as die nuwe adjunkhoof van die skool.
Alyssa is getroud met Cecil Strydom (37), wat die adjunkhoof van Laerskool Die Arend is. Hulle kind, Ilne, is agt jaar oud.
Die Herald het met Alyssa gesels oor haar aanstelling en die nuwe pos waarna sy baie uitsien.
• Wanneer het jou aanstelling in werking getree?
Ek is vanaf 1 Oktober aangestel. Ek kan ongelukkig nie dadelik begin nie omdat ek ‘n verantwoordelikheid het teenoor my huidige Graad 12-leerders om die laaste praktiese eindeksamen af te handel voordat ek my pos heeltemal kan vol staan.
• Hoe lank is jy al verbonde aan Hoërskool Die Anker?
Ek begin as ‘n nuweling by Hoërskool Die Anker en dit is opwindend om te dink dat ek die skool as ‘n nuwe personeellid kan en gaan leer ken. Dit maak die verandering meevoerend.
• Gee ‘n kort beskrywing van jou onderwys loopbaan tot nou
Ek het in 2011 as ‘n finalejaarstudent by Laerskool Die Arend begin waar ek Afrikaans vir Graad Ses en Sewe leerders aangebied het.
In 2012 het ek ‘n pos by Hoërskool Stoffberg aanvaar en Afrikaans vir Graad Nege leerders aangebied. In 2013 het ek visuele kuns as ‘n keusevak by die skool begin en infaseer en in 2014 het ek heeltemal oorgeskuif na die kunsdepartement wat skeppende kunste (Graad Agt en Nege) insluit. Hoërskool Stoffberg het my die afgelope 10 jaar talle geleenthede gebied waar ek as ‘n leier en bestuurslid kon optree.
Ek het op die NWU-16 Sportreeks (mediumskole) se direksie gedien as die direkteur van dogtershokkie. Ek het ook Stoffberg se hokkie georganiseer. Ek het in 2015, 2018, 2021 die distrikstoekenning ontvang vir die beste visuele kuns onderwyser in Gauteng-Oos.
Ek is ook sedert 2020 aangestel as ‘n provinsiale moderator in Gauteng vir visuele kuns en in 2021 as ‘n merker in die nasionale senior eksamen in Gauteng. Ek was ook leiervoog, graadhoof, vakhoof, lid van die beheerliggaam en het Hoërskool Stoffberg se bemarking behartig.
• Watter vakke bied jy aan en vir watter graad? Bly dit nou onveranderd met jou aanstelling?
Ek is opgelei in Afrikaans en kuns in die VOO-fase (Graad 10 – 12). Omdat visuele kuns nog nie as ‘n keusevak by Hoërskool Die Anker aangebied word nie gaan ek vir nou Afrikaans aanbied.
• Wat behels jou pos as adjunkhoof van die skool?
Om ten alle tye die hoof by te staan om die skool te bestuur en verantwoordelik te wees vir die skoolkurrikulum en -pedagogie. Administratiewe verpligtinge en prosedures asook die totale skoolaktiwiteite en funksies te bestuur.
• Wat sal jou dag onmiddellik deurmekaar gooi?
As ek nie betyds by die skool kan wees om my dag te beplan en onmiddellik enige probleme wat die dag inhou kan oplos nie.
• Werk jy regtig net van 06:30 tot 14:00?
Nee definitief nie. Geen onderwyser se werksure kan deesdae binne ‘n vasgestelde werktyd gemeet word nie.
• Watter advies sal jy aan aspirant onderwysers gee?
Bevordering verg harde werk, ekstra tyd, entoesiasme en kreatiwiteit. Raak betrokke by alle aktiwiteite. Die wêreld smag na kreatiewe mense wat nie bang is om die ekstra myl te stap nie. Leierskap word ontwikkel met elke nuwe aktiwiteit wat jy organiseer of by betrokke is. Droom groot!
• Wat sou jy graag omtrent die huidige onderwysstelsel wil verander?
Ek voel dat die kurrikulum plek moet maak om in die begin van elke nuwe fase (intermediêr-, senior- en VOO-fase) plek te maak vir die vaslegging van basiese vaardighede en kennis wat leerders nodig het om die volgende fase te verstaan.
Die sprong tussen die fases is groot en die kurrikulum maak nie plek vir deeglike vaslegging van basiese kennis nie, omdat die assessering van talle take meer tyd in beslag neem.
• Wat is die laaste boek wat jy gelees het?
Goeie leiers vra die regte vrae deur John C. Maxwell. ‘n Aanhaling uit hierdie boek wat my inspireer sê die volgende: “Die toekoms behoort aan die nuuskieriges – dié wat nie bang is om te probeer nie.”
Om meer oor leierskap te lees help my om my benadering tot situasies meer raadsaam te kan hanteer. Ek lees graag boeke oor leierskap.
• Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek spandeer tyd saam met my gesin/familie en is mal daaroor om inkopies te doen. As gesin gaan kuier ons gereeld vir my skoonfamilie in Jeffreysbaai en kry ons weer nuwe moed en krag om nog groter te droom.