Tweedy Park inwoners sukkel met water, hysbakke
Die inwoners van Tweedy Park se woonstelblokke het menigte klagtes, en hulle voel afgeskeep deur die munisipaliteit.
Die inwoners van die woonstelblok by die Tweedy Park kompleks het menigte klagtes, maar aan die top van hul lysie is die water wat uit die reservoir op die dak loop, asook die enigste werkende hysbak wat net gedeeltelik werk.
Dit is ook nie die eerste keer dat die hysbakke by die woonstelblok van 12 verdiepings vir ‘n groot kopseer sorg nie.
Die Herald het in die verlede berig oor die penarie wat die verouderde hysbakke veroorsaak het. Op een stadium was dit vir sowat ses maande buite werking.
Nuwe hysbakke is sedertdien geïnstalleer en alhoewel dit groot verligting gebring het, blyk dit dat daar nou weer nuwe kwellinge is.

Een van die nuwe hysbakke is volgens die inwoners sedert November 2022 buite werking, en die tweede is sedert verlede maand gedeeltelik buite werking, aangesien die eerste drie vloere se panele nie werk nie.
“As iemand in die hysbak van die eerste vloer af wil beweeg moet hulle wag dat iemand van die vierde vloer of hoër af kom, tot op die eerste vloer, of hulle moet iemand kry om van die hoër vloere in die hysbak in te gaan en die knoppie van die eerste vloer te druk om die hysbak af te stuur,” het een van die inwoners verduidelik.
Baie mense ken nie iemand op ‘n hoër vloer nie, en moet dus wag vir iemand om af te kom, of die trappe aandurf.
‘n Reservoir blyk, volgens die inwoners, deel van die probleem te wees. Volgens inligting het die reservoir ‘n stelsel wat inskop as die water ‘n sekere hoogte bereik, die toevoer afsny.

Blykbaar werk iets in hierdie stelsel nie meer nie want wanneer die reservoir vol word begin die water oorloop.
Hierdie water loop dan in die hysbakskag en by die stelle trappe af, wat ‘n verdere gevaar inhou. Bejaardes kan op die nat trappe gly en die moontlikheid dat ‘n kortsluiting kan ontstaan is ook nie uitgesluit nie.
Dick Handford (74) bly op die sesde verdieping en sê sy bene is al “dood” van al die trappe klim.
Hy onthou hy het een keer op die vierde vloer ‘n inwoner gekry wat die trappe aangedurf het, wat gelyk het of sy enige oomblik kon flouval. Vir ander, soos Eddie Frost (78) wat in ‘n rolstoel is, is onmoontlik om die trappe te klim.
As hulle op die vierde verdieping of hoër is kan hulle in die hysbak afgaan, maar dan moet hulle lank wag vir iemand om af te kom sodat hulle weer kan opgaan.
: Tips to ensure motorists get the best mileage out of their tank
Baie van die inwoners, wat afhanklik is van ‘n Sassa pensioen, sukkel om kruideniersware of ander items wat hulle koop, by die trappe op te dra.
Dié wat gestremd is kan glad nie sonder die hysbakke uitkom om geld te trek of kruideniersware te koop nie. Nog ‘n rede tot kommer onder die inwoners is wanneer iemand per ambulans vervoer moet word.
“Die nooddienste het die hysbak nodig om die draagbaar tot op hoër verdiepings te kry en hulle het dit onmiddellik nodig. Om iemand op te stuur om die hysbak af te stuur neem te veel tyd,” het een van die inwoners gesê.
Die Eric Holdtman Dienssentrum, wat kos aan baie van die woonstelblok inwoners verskaf, kan ook nie kos by almal uit kry nie.
Die Herald het die Stad van Ekurhuleni genader vir kommentaar.



