Leerders, ouers en onderwysers loop ‘n myl in ‘n kind se skoene
Deelnemers het 'n stel plakkies aangehad wat 'n grootte of twee te klein was.
Ouers, onderwysers en leerders van die Laerskool Môrewag het Dinsdag ‘n myl geloop in plakkies wat te klein is, om die uitdagings van kindwees metafories te ervaar.
Dié inisiatief, wat deur RATA Maatskaplike Dienste aangebied is, wou hê die bywoners moes beleef hoe dit voel om letterlik in ‘n kind se skoene te stap om sodoende kinderbeskermingsweek waar te neem.
Kinders is een van die wêreld se mees kwesbare bevolkings, met min tot geen outonomie en ‘n fisiese agterstand teen volwasse aggressors.
As gevolg hiervan is kinders van die grootste hoeveelheid mense wat mishandeling deurgaan en wat dit die moeilikste vind om geweld aan te meld of teen te staan.

RATA het die skool besoek om die leerders in te lig oor die rol wat maatskaplike werkers in die beveiliging van kinders se lewens speel. Adv Dick Hattingh van die Nasionale Vervolgingsgesag het ook met die leerders gepraat oor boelie.
“Boelie, soos julle dit seker ken, is wanneer jy jou maatjie seer maak, of jou maatjie vir jou; maar dit kan ook wees wanneer grootmense jou seer maak, of jy vir hulle,” het Hattingh aan die leerders verduidelik.
“Wanneer jou juffrou probeer klas gee en jy raas en bly nie stil wanneer sy dit versoek nie, dan boelie jy haar ook. As iemand iets lelik vir of van jou sê, dan boelie hulle jou,” het hy voorts verduidelik.
“As iemand lelik is met jou, boelie hulle jou, en as jy lelik is met iemand boelie jy hulle. Dit maak nie saak wie daardie persoon is nie; dit kan selfs jou eie ouers wees.
LEES OOK: Brand ambassador grateful for recognition
“Indien jy voel dat iemand jou boelie, gaan praat met ‘n juffrou of meneer sodat hulle jou kan help,” was Hattingh se raad aan die leerders.
“Indien dit jou juffrou of meneer is wat jou boelie, praat met jou ouers. As jy iemand boelie, en jy word nie gestraf nie, gaan jy aanleer dat aanvaarbaar is en dit is nie waar nie.
“Wanneer jy as grootmens dinge doen wat jy nie moet nie, gaan jy tronk toe daarvoor; so wees eerder nou ‘n goeie mens en leer wat reg en verkeerd is,” het hy mee afgesluit.
Na die sprekers hul beurt gehad het is die leerders, ouers en onderwysers in groepe opgedeel en het hulle groep-groep om die skool se sportvelde gestap.

Almal in ‘n stel plakkies, wat ‘n grootte of twee te klein is aangetrek, om die moeite van “in ‘n kind se skoene loop” te ervaar.
Daar was egter nie net erns en ongemak aan die orde van die dag nie, want die bywoners kon boereworsrolle, pannekoek en drinkgoed geniet, of ’n kans waarneem by ‘n “lucky wheel”.
Fondse wat ingesamel is by die stalletjies gaan direk aan RATA, Psalm91 wat die maatskaplike dienste se sopkombuis bestuur asook programme wat in nood verkeer. RATA het ook die borge wat die dag moontlik gemaak het bedank.
Dit sluit Jansens Meat Market en Printden in asook Psalm 91 wat die boereworsrolle en pannekoek gemaak het, Môrewag se skoolhoof Elna Venter, en alle deelnemers.




