Just Wheels Motor en Trekker Klub bederf bejaarde mans vir Vadersdag
Vier lede van die klub het die mans se Vadersdag spesiaal gemaak.
Die Just Wheels Motor- en Trekker Klub is nie net bekend vir sy indrukwekkende vertoning van klassieke voertuie nie; dit dien ook as ’n betekenisvolle liefdadigheidsplatform.
Die klub doen gereeld uitreikprojekte om die gemeenskap te help. Op die afgelope Vadersdag is die mans by House of Grace, ’n ouetehuis in Hastingslaan, besoek en bederf.
Die mans het elk ’n geskenkpakkie ontvang.
“Dit was, soos altyd, vir Just Wheels ’n voorreg om ons bejaardes se dag op te kikker,” het Sandra Viljoen, een van die vier klublede wat by die projek betrokke was, gesê.
Die vier lede wat die dag se uitreikingsprojek moontlik gemaak het, is Sandra en Bertus Viljoen, asook Hannetjie en Johan van der Mescht.



