Nuwe energie vir Oos-Rand Sakevroue by betekenisvolle ontbyt
Met vars koffie in die hand en 'n heerlike ontbyt het die Oos-Rand Sakevroue hul eerste vergadering in ses maande gehou, tydens 'n oggend vol betekenis.
Met vars koffie in die hand en ‘n heerlike ontbyt het die Oos-Rand Sakevroue hul eerste vergadering in ses maande gehou, tydens ‘n oggend vol betekenis.
Die Meet and Greet Ontbyt, aangebied by Madeleine’s Venue and Coffee Shop op 2 Julie, was meer as net ’n netwerkgeleentheid; dit was ’n herontmoeting van susterskap, steun, en ondernemingsgees.
Een van die oggend se hoogtepunte was ’n insiggewende toespraak deur Pete Beart, voorsitter van die Eastern Highveld Beekeepers’ Association, wat nie net die waarde van ware heuning uitgelig het nie, maar ook die gevare van “fake honey” in winkels bespreek het.
Gaste is aangemoedig om sulke produkte by die relevante owerhede aan te meld.

“Alles wat in die produk is moet duidelik aangedui word,” het hy uitgewys.
Hy het voorbeelde gewys waar dit blyk of daar heuning in ‘n bottel is, maar dat dit nie regtig heuning is nie.
Verder het die gaste lief en leed gedeel, gelag, gesels, en mekaar weer opnuut bemoedig. Karen Herbst, voorstter van die Oos-Rand Sakevroue het die geleentheid as ‘n groot sukses beskryf.
“Ek moet dit toeskryf aan ons kostes en die getal dames wat die geleentheid bygewoon het. Dit was ons eerste vergadering in ses maande en die dames het dit so geniet om mekaar weer te sien.

Hoogtepunt was die ou komiteelede wat die geleentheid bygewoon het en Susan Noppe wat na ‘n lang siekbed die funksie kon bywoon. Ons is dankbaar vir elke dame wat die tyd afstaan om ons te ondersteun,” het Herbst bygevoeg.
Nuwe komitee
Die toekoms van die Sakevroue lyk blink en hul spog met nuwe komiteelede, Helma Viljoen en Ciska Scheepers.
“Ons is weer terug op ons pos met nuwe komiteelede en ons sal weer meer gereeld sulke geleenthede hou.
“Ons wil ook meer fokus om die enkel eienaar besighede te ondersteun, bemark en n platform te gee waar hulle kan uitbrei,” het sy bygevoeg.








