Brakpan Rugbyklub vier suksesvolle seisoen met toekenningsaand
Die Brakpan Rugbyklub het sy spelers beloon vir ’n seisoen vol harde werk, toewyding en ware span gees.
Die Brakpan Rugbyklub het ’n besonderse jaar beleef en het Vrydagaand teruggekyk op die seisoen se suksesse, terwyl spelers beloon is vir hul harde werk en toewyding aan die klub.
Die prysuitdeling is bygewoon deur die bestuur, borge, spelers en hul gades, asook verskeie gaste. Die voorsitter van die klub, Frikkie Bosman, het gesê dit is aangenaam om die hoogtepunte van die seisoen te vier.
“Ons mense se lojaliteit en ondersteuning is die hart van hierdie klub, en dit wys weer waarom Brakpan se gees uniek is,” het hy bygevoeg.
Die aand het egter aan die spelers behoort, en die volgende toekennings is gemaak:
- Mees gevorderde speler: Christopher Swart
- Puntemaker van die jaar: Benton Giessing
- Driekoning: Brandon Swart
- Losvoorspeler van die jaar: Xander Marais
- Voorspeler van die jaar: William Scheepers
- Agterlynspeler van die jaar: Henry Pike
- Mees lojale speler: William Scheepers
- Spelers se speler van die jaar: Xander Marais
- Junior speler van die jaar: De-wet Rademan
- Senior speler van die jaar: Tjaart Scheepers
- Stoutgat van die jaar / Geesbeker: Brandon (Panda) O’Neill
Die klub se volgende groot rugbygeleentheid vind plaas op 22 November, wanneer rugbyliefhebbers kan uitsien na ’n skouspelagtige dag van rugby in die vorm van die Panne 7’s Fest.
Benewens talle rugbywedstryde sal daar vermaak wees, asook genoeg kos en drankies vir besoekers om ’n aangename dag te beleef.
“Ons nooi alle klubs uit om steeds hul spanne in te skryf,” het Frikkie Bosman, voorsitter van die Brakpan Rugbyklub, gesê.













