KYK: Gemeenskap vereer Karlien met kersligwaak
Die waak het Vrydag aand begin by die Wimpy Roadhouse in Dalview, en toe beweeg na die gesin se huis in Dalpark.
Familie, vriende en belangstellendes het Vrydagaand bymekaar gekom om tydens ’n kersligwaak afskeid te neem van Karlien Roets (10).
Die Herald het verlede week berig dat Karlien Dinsdag in die hospitaal oorlede is. (Karlien Roets oorlede ná jare lange dapper stryd ná kombuiskas-ongeluk.)
Karlien is in Augustus 2018 beseer toe ’n kombuiskas in die gesin se huis in Dalview op haar geval het. Sy was toe slegs drie jaar oud.
Die Herald het oor die afgelope sewe jaar gereeld berig oor Karlien en ook haar ouers, Karin en Frikkie Roets, se volkome toewyding om vir haar net die beste mediese sorg te gee.

Karlien het ’n longinfeksie opgedoen en, ten spyte daarvan dat sy in ’n hospitaal opgeneem is, is sy Dinsdagoggend oorlede.
Karin het tydens die kersligwaak almal bedank vir hul ondersteuning deur die jare.
“Dankie dat julle daar was, al was dit vir ’n fondsinsameling, of dalk het julle ’n donasie gemaak of ons op een of ander manier ondersteun.
“Ons wil net dankie sê van ons gesin af dat julle haar gevolg het en die pad saam met ons gestap het,” het sy gesê.
Tinus Jordaan, voorsitter van die Brakpan GPF, het die prosessie na die gesin se huis gelei.
“Ons sê net baie dankie vir almal wat vanaand gekom het om die gesin by te staan. Karlientjie was ’n groot deel van Brakpan; baie mense ken haar,” het hy gesê.
Karlien se lewe word môre (Woensdag, 1 Julie) om 10:00 gevier, tydens ’n diens vanuit die AGS Kerk, Brakpan-Wes.


ALSO CHECK: Owner learns of vehicle theft after police recover stripped car
ALSO CHECK: SAPS ready for June 30 demonstrations, warns against lawlessness



