Editor's choiceSchool sportSport

Groot sukses vir Stoffberg op die veld

Drie spanne van Hoërskool Stoffberg het deurgedring na die finaal en dit was hiér waar die o-14’s en die eerste span beïndruk het.

Die Valke-liga is onlangs afgehandel en die Hoërskool Stoffberg het ’n uitstekende seisoen beleef met vyf spanne wat na die half-finaal van dié liga deurgedring het.

Drie spanne van Stoffies het daarna deurgedring na die finaal en dit was hiér waar die o-14’s en die eerste span beïndruk het.

Die eerste span het Saterdag teen Hoërskool Brandwag te staan gekom met ’n eerste helfte wat deur uitstekende spel gedomineer is. Dit het gesorg dat die halftyd telling 13–7 in Stoffberg se guns was.

In die tweede helfte het Brandwag teruggeslaan en die telling in hul guns met 14–13 geswaai.

Stoffberg se spelers het met verwoede verdediging Brandwag van die doellyn af weggehou maar op die einde van die dag het die bal nie vir Stoffberg reg gespring nie en het hulle die wedstryd met 13–19 verloor.

Stoffberg se puntmakers was Deon Vos wat ’n drie gedruk het en Francois Blaauw wat suksesvol was met een vervyfskop en twee strafskoppe.

Die span, wat nou naaswenners van die Valke-liga is, dring deur na die Virseker-Beeldtrofee se uitspeelrondte, waar hulle teen die Bulle se naaswenners te staan sal kom.

Dié wedstryd word Saterdag om 10vm op die Hoërskool Stoffberg se velde gespeel.

Die o-14 span van Stoffberg het in die finaal van die Valke-liga ook teen Brandwag gespeel en sukses behaal.

Die o-14 rugbyspan saam met die afrigters, Johan Grobler (links) en Christo Zevenster.

Brandwag het vroeg in die wedstryd agter die doellyn gaan kuier, maar dit het die span nie van koers afgedwing nie.

Met goeie hardlooprugby en aanhoudende druk het Stoffberg twee drieë gedruk en halftyd met ’n voorsprong van 12–5 ingegaan.

Vroeg in die tweede helfte het Stoffberg met ’n strafskop aangelê pale toe. Die bal is teen die pale vasgeskop en het teruggespring waarna dit deur Stoffies teruggewen is.

Twee fases daarna het die span weer die doellyn oorgesteek. Stoffberg het koning gekraai met 19–12.

Die span se puntemakers was Brandon Burger wat twee drieë gedruk het, Adriaan Pepler met een drie en Zander Nel met twee vervyfskoppe.

Stoffberg se o-14span dring nou deur na die Virseker Beeldtrofee se kwart-finaal wat op 12 Augustus gespeel sal word.

Lees ook:

Stoffberg se rugby is weer tops

Rugbyspeler van Stoffberg blink uit

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button