School sportSport

Stoffberg se rugby kook

Die Hoërskool Stoffberg se eerste span kom môre teen die Hoërskool Bekker te staan in die kwart-finaal van die Virseker-Beeldtrofee.

Die Hoërskool Stoffberg se eerste rugbyspan het onlangs die uitspeelrondte van die Virseker-Beeldtrofee gewen deur Pretoria Technical High School met 32 – 21 te klop.

Daarmee het die span deurgedring na die kwart-finaal van die reeks.

Die wedstryd het met ‘n geweldige tempo begin en met uitstekende ondersteunende spel het Stoffberg se senter Okkie Jacobsohn sy span se eerste drie gaan druk.

Kort daarna het die voorspelers met goeie dryfspel die kleinkant gebruik en ‘n tweede drie vir Okkie moontlik gemaak.

Met aanhoudende druk en voorspelerspel het Duan van den Berg oorgebars vir die derde drie van die wedstryd.

Pretoria Technical het opwindende hardloop rugby gespeel en met vinnige hande en puik spel het die manne van Pretoria die doellyn twee keer oorgesteek met ‘n halftydtelling 20 – 14 in Stoffberg se guns.

Net na halftyd het Pretoria Technical weer die doellyn oorgesteek om telling 21 – 20 in hul guns te beklink.

Die manne van Pretoria het stert in die lug die tweede helfte gespeel en Stoffberg se manne moes verwoed verdedig.

Met balbesit en beheer van die fasette het Dewald Vermaak die doellyn oorgesteek, laat in die tweede helfte en Francois Blaauw net daarna, om die telling op 32 – 21 te kry teen die einde van die wedstryd.

Die eerste span kom môre (Saterdag) teen die Hoërskool Bekker te staan in die kwart-finaal van die Virseker-Beeldtrofee.

Die wedstryd vind om 10vm by die Hoërskool Monument plaas.

  • Die o-14 span van Stoffberg kom teen die Hoërskool Brits te staan. Dié wedstryd word om 9vm op die Hoërskool Stoffberg se velde gespeel.

Related Articles

 
Back to top button