Kamphoer – Die verhaal van Susan Nell
Vanjaar is die 121ste gedenkjaar van die Anglo-Boereoorlog, en dié produksie bring hulde aan die era.
Die verhaal van Susan Nell is gebasseer op ‘n ware verhaal, met Susan gekonfronteer met ‘n amper onbeskryflike werklikheid gedurende die Anglo Boereoorlog in die Winburg konsentrasiekamp.
Die regie is behartig deur die internasionaal bekroonde Lara Foot wat haar uitmuntende loopbaan by die Markteater begin het.
Die Markteater en die Roodepoortteater, in samewerking met Theatrerocket, bied Kamphoer – die verhaal van Susan Nell van 19 Januarie tot 14 Februarie 2021 aan.
Suid Afrikaanse teaterlegende Sandra Prinsloo keer terug na ‘n bekende verhoog tuiste om die uitdagende en betowerende rol te vertolk.
Die verhoogstuk

Die drama is saamgevat uit die blitsverkoper en debuutroman Kamphoer deur Francois Smit en ook die non-fiksie publikasie The Boer Whore deur Nico Moolman en is vir die verhoog aangepas deur Cecilia du Toit, in samewerking met Sandra Prinsloo en Lara Foot.
Die kragtige solo produksie vertel die verhaal van ‘n familie wat moet veg teen verwoestende verlies, gevolg deur beproewing wat hulle die res van hulle lewe sal bybly.
Na Susan se pa se dood gedurende die oorlog beland sy en haar ma in die konsentrasiekamp waar sy brutaal verkrag word en vir dood agtergelaat word deur twee Britse offisiere en ‘n joiner.
Sy oorleef die traumatiese gebeure en kwalifiseer as ‘n psigiatriese verpleegster in Nederland.
Sestien jaar later reis sy Engeland toe gedurende die Eerste Wêreldoorlog en as gevolg van haar indiensneming deur ‘n militêre hospitaal vir soldate wat aan bomskok ly, herken sy ‘n pasiënt as een van haar aanvallers.
Met hierdie tragiese herontmoeting herleef sy die traumatiese verkragting herhaaldelik en word gekonfronteer met die vernedering wat sy as jong dogter ervaar het.
Die stuk het gedebuteer as die vlagskip produksie van die 2019 Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. Die Blinker prys as Beste Nasionale Debuut van die fees is aan Kamphoer toegeken.
Sandra het die nasionale 2020 kykNET Fiësta Teatertoekenning as Beste Solo Speler ontvang en die produksie is genomineer as beste aangepaste teks van ‘n bestaande werk.
Dit is ook genomineer vir beste solo spel deur die Fleur du Cap toekennings vir 2020 en vir vier verdere toekennings by die 2019 Aardklop Kunstefees: beste aktrise, beste regisseur, beste solo speler en beste algehele aanbieding.
Dit ontvang wonderlike resensies by beide Kunstekaap se Vrouefees en die Baxterteater in Kaapstad.
Kamphoer die roman is genomineer vir die Jan Rabie Rapport-toekenning en ‘n ATKV prys en was op die 2018 Sunday Times Literary Awards kortlys.
Bespreek nou
Kaartjies kos R90 per persoon op Dinsdae, Woensdae en Donderdae.
Van Vrydag tot Saterdag beloop die koste R150 per persoon en op Sondae is dit R130 per persoon.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets (https://www.webtickets.co.za/v2/)
Vir blokbesprekings, kontak Anthony Ezeoke by 011 832 1641 (uitbreiding nommer 203) of op 083 246 4950




