KYK: Stefan maak golwe in die musiekwêreld met sy video
Stefan Jansen is ’n goeie bewys dat harde werk vrugte afwerp.

Ten spyt van ’n pandemie het sy loopbaan sedert 2020 nog net van krag tot krag gegaan.
Sy debuut-enkelsnit, Verdienste en Genade, is deur van die land se grootste radiostasies gespeel én hy het onlangs ’n gesogte platekontrak met Vonk Musiek gesluit.
Om dinge nog meer opwindend te maak, het hy vier weke terug ’n splinternuwe lied vrygestel wat opslae landswyd onder die publiek, op radiostasies en in musiekkringe maak.
Hierdie snit en musiekvideo het binne slegs vier weke na vrystelling reeds naby 100 000 kyke op YouTube gekry.
Suikerbos is ’n kontemporêre snit, uit sy eie pen, wat luisteraars aanmoedig om geluk te vind voordat dit by hulle verbygaan. Dit is egter die verwerking, stem en manier waarop hy hierdie lied sing en oordra wat jou laat stop waarmee jy besig is en ‘luister’.
“Hierdie lied is geïnspireer deur ’n gesprek wat ek met myself gehad het in die spieël. Ek was op soek na myself en liefde, en het met baie interne vrae geworstel.
“Die oomblik toe ek my volle tyd en aandag begin spandeer het aan die dinge wat vir my belangrik is, het ek myself gevind en kalm geword. Ewe skielik het ek uitgesien dat mense my vra wat ek doen vir ’n lewe. Ek was trots op myself en ek het harder as ooit begin werk.
“Verder het ek ook besef dat iemand wat ek al lank ken en wat my nog altyd ondersteun het, die perfekte maat is vir my. Ek het dit net nooit raakgesien nie,” het hy gedeel oor die betekenis agter hierdie emosiebelaaide liedjie, wat deur Tertius Human van Vonk Musiek vervaardig is.
Volgens die veelsydige musikant het Tertius dadelik die potensiaal van die snit raakgesien en dit toe opgeneem om vir sy kollegas te speel. Dit het vir hom ongelooflik baie deure oopgemaak en hy is baie dankbaar vir die geleentheid om sy musiek met mense te deel.
“Suikerbos is die storie van die pad wat ek moes stap om myself te vind. Ek hoop dat mense die passie en wroeging deur die liedjie sal voel en dat dit hulle sal herinner dat daar baie is om voor dankbaar te wees. Geluk is dikwels baie nader aan jou as wat jy gereed is om te sien,” het hy gesê.
Hierdie lied lê hom so na aan die hart dat hy besluit het om sy heel eerste formele musiekvideo daarvoor op te neem.
Kyk die video hier:
Die video is gebaseer op sy eie lewe en vertel die verhaal van ’n hardwerkende opkomende musikant wat wroeg met die daaglikse uitdagings van die musiekwêreld en dan uitvind dat geluk en sukses nader aan hom was as wat hy ooit besef het.
Dit is deur Vonk Musiek se Wian van der Walt verfilm by die Infinity-teater in Pretoria en by ’n huis in die Oosrand.
“Omdat my aanhangers gewoond is om my op die verhoog te sien, het ons besluit om ’n hele paar tonele in te werk waar ek die liedjie sing. Tussen-in is ’n uitbeelding van my normale lewe tussen vertonings, en dit skep die prentjie wat my laat besef dat ek nog altyd omring was met dit waarna ek opsoek was,” het hy verduidelik.
“Om my eerste musiekvideo te skiet was ’n lekker ervaring en dit was ’n voorreg om saam met Vonk se professionele span te kon werk.”
Stefan was nog altyd versot op musiek en was in Graad 10 toe hy sy pa gevra het om hom te leer kitaar speel. Wat begin het as kampvuurmusiek in die bosveld, het gou gegroei na betaalde solo-optredes by restaurante en kroeë vir sakgeld in Pretoria, waar hy gaan regte studeer het.
Oor die jare het hy die verhoog saam met verskeie groot name gedeel, waaronder Jan Blohm, Valiant Swart, Justin Serrao, Crash Car Burn, The Parlotones en Anton Goosen.
Wanneer hy nie besig is om musiek te skryf nie, bou hy sy eie akoestiese kitaar, ’n projek waarmee hy tydens die derde vlaag van die pandemie begin het. Hy verklap dat dit amper klaar is en dat hy nie kan wag om op die verhoog daarmee te speel nie.
Met die toekoms wat so onseker is, probeer hy om nie te ver vooruit te beplan nie. Wat hy wel weet, is dat hy op soek is na stabiliteit en rustigheid en dat hy sy drome wil najaag en sy talent met mense wil deel.
“Ek wil tyd saam met my mense spandeer, leer, groei en dit geniet. Dis al wat ons eintlik het.”



