Local news

Vrystaatse aasvoël tuis in die Waterberg

Bewaringpogings om die land se bedreigde aasvoëlspesie te red het verlede week ’n hupstoot gekry nadat ’n jong gerehabiliteerde aasvoël in die Roedtan-omgewing vrygelaat is.

Marissa Hamman, gehoorpraktisyn van Bela-Bela en vrywilliger by die aasvoël-bewaringsorganisasie Vulpro, vertel aan Die Pos daar is nie ’n enkele dag wat verbygaan waar dié roofvoëls nie bedreig word deur vergiftiging, stropers, of kragdrade nie. Dit is hoekom die suksesvolle rehabilitasie van aasvoëls so belangrik is vir die voortbestaan van die spesie.

Dié spesifieke witrugaasvoël is in April vanjaar deur Kate Webster van die Oos-Kaap gered.

Hamman vertel dat Webster die aasvoël in Smithfield in die Vrystaat gevind het. Die voël was uitgeteer en gedehidreer. Daar was ’n sterk moontlikheid dat die voël loodvergiftiging opgedoen het, vertel Hamman.

Vrywilligers van die bewaringsorganisasie Vulpro het die afgelope week ’n jong aasvoël buite Roedtan vrygelaat.

Webster het die verswakte aasvoël na Vulpro se rehabilitasiesentrum in die Hartbeespoort-omgewing gestuur, waar Kerri Wolter, Vulpro se hoofuitvoerende beampte en haar span, hom gerehabiliteer het.

“Ek het die voël op Maandag 17 Julie op Tom Laas se plaas naby Roedtan vrygelaat. Mense kan uitkyk vir die voël wat ’n pienk en swart beenband met die nommer 74 (PB74) dra. Die band word gebruik om sy beweging te moniteer,” sê sy.

“Witrugaasvoëls is ’n kritiek bedreigde spesie. Hulle broei in los kolonies en maak neste in bome. Hulle word sowat 90 tot 100 cm hoog en het ’n vlerkspan van tot 2,3 m. Hulle vrek as gevolg van kraglyne wat hulle doodskok, vergiftiging en mense wat hulle jag vir tradisionele medisyne. Hulle word ook blootgestel aan vergiftiging omdat hulle op dooie karkasse voed van diere soos jakkalse wat vergiftig is. Selfs die lood waarmee ’n dier geskiet word, kan dié voëls vergiftig.”

Sy versoek dat boere in die omgewing liefs loodvrye ammunisie gebruik.

“Bel Vulpro dadelik as jy ’n aasvoel sien wat in die moeilikheid is. Dit is gewoonlik ’n voël wat nie kan opstyg nie en op die grond bly terwyl sy natuurlike instink is om weg te vlieg. Vergiftiging verswak die spiere in hul vlerke en hulle sukkel om te vlieg.”

Vir meer inligting, besoek Vulpro se webtuiste by www.vulpro.com(.)

Related Articles

 
Back to top button