Local news

Nuwe eenheid help met versorging

Die Kokanje-aftreeoord in Modimole het onlangs ’n nuwe agtbed-afdeling vir tydelike opnames ingewy.

Afdeling F sal gebruik word vir die tydelike versorging van inwoners van die oord. Die mylpaal is op Dinsdag 14 November met ’n lintknip-seremonie gevier.

Die nuwe fasiliteit bring groot verligting vir inwoners wat moet rehabiliteer of aansterk na ’n operasie. Tot dusver moes inwoners sulke fasiliteite in die stad gebruik wat logistieke probleme geskep het.

Volgens die oord sal pasiënte by die eenheid hulp ontvang met hul daaglikse aktiwiteite na trauma soos ’n val of operasie, totdat hulle terug na hul eie huis toe kan gaan. Inwoners wat tuisversorging ontvang maar wat ’n tydelike insinking beleef, sal ook hier opgeneem kan word. Die afdeling bied ook hulp wanneer die primêre versorger, gewoonlik die gade, ’n blaaskans nodig het om aan sy of haar eie sake aandag te gee. Verswakte bejaardes wat wag vir ’n bed in die verswakte eenheid, sal ook tydelik hier gehuisves kan word.

Hoewel die oord nou tydelike versorging kan bied, is hulle nie geregistreer as ’n “stepdown”-fasiliteit nie.

Related Articles

 
Back to top button