Classics & HistoricLifestyleLocal LifestyleLocal newsMotoring

Dié veteraanmotors brul in styl

Wanneer André van Dyk die swaar deure van die skuur op Vygeboom buite Mookgophong oopstoot, voel dit asof ’n mens in die verlede instap.

André het ’n passie vir veteraanmotors en meer spesifiek die veteraanmodelle van Volvo, MG en Alfa Romeo.

Hy bou reeds 20 jaar aan sy indrukwekkende versameling veteraanmotors.

Elkeen van die 30 ou menere en ’n paar fietse dames is blink gepoets en elkeen het ’n storie om te vertel. Hy is eintlik ’n mediese tegnoloog van beroep en besit Van Dyk Farmaseutiese maatskappy langs Lanseria in Gauteng, maar die motors is sy speelplek.

“My heel eerste motor wat ek besit het toe ek uit die Vloot gekom het, was ’n grys Volvo,” het hy vertel.

Een van die skaars motors in sy versameling is ’n 1965 P1800 Volvo waarvan daar net vier is Suid-Afrika is en ’n goudgeel 1938 Studebaker-bakkie. Die Volvo is soortgelyk aan die model wat in die sestigerjare in die James Bond-films gebruik is. Hy het sewe Volvo-modelle in sy versameling.

André restoureer nie self die motors nie. Die meeste van sy motors is die kenmerkende geel van Ferrari.

“Ek wens ek kon my vingers klap en almal is geel,” het hy laggend gesê.

Hy verhuur soms van die motors vir troues en matriekafskeidgesellighede uit. Twee van die skaars modelle is baie werd — een van hulle glo in die omgewing van R900 000. Hy het dit duidelik gemaak dat die motors beslis nie te koop is nie. Al die motors is padwaardig en geregistreer en hy ry gereeld ’n entjie met elkeen om seker te maak dat alles nog mooi werk en die voertuie genoeg aandag kry.

Hy het ook ’n uitgebreide versameling viniellangspeel plate en die ou 16 mm filmprojektors. Soms haal hy dit uit en dan kyk hulle sommer bioskoop op ’n grootskerm in die skuur.

André het jare gelede by ’n motoraanleg in Rosslyn buite Pretoria gewerk waar hy verantwoordelik was vir die meng van die verf vir motors. Hy boer met Nguni-beeste op die plaas. Hy het in Pretoria grootgeword, maar is ’n oud-Hansie. Evi, sy vrou, is ’n verpleegsuster van beroep. Die Pos het onlangs geskryf oor haar minatuurperdjie-boerdery.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button