LifestyleLocal newsNews

Paasfees word só gevier

Met Paasnaweek op hande het Die Pos met inwoners van die gemeenskap gesels oor hulle planne vir die Paasfees en die tradisies wat daarmee gepaard gaan.

Roelien Smit.

Roelien Smit, ontvangsdame by Laerskool Warmbad:

In hierdie spesiale tyd van die jaar, waar Jesus Christus uit die dood opgestaan het, vind ons soveel vreugde en dankbaarheid in die teenwoordigheid van ons familie en geliefdes. Ons deel stories, braai ’n heerlike vleisie, terwyl die kinders paaseiers soek en hulself trommeldik eet.

Fanie Fourie.

Fanie Fourie, waarnemende skoolhoof van Settlers Agricultural High School:

Ons gaan Pretoria toe vir die Paasnaweek om vir my ouers te kuier. Maar, die hoofrede is om naby my skoonpa, die voormalige hoof van Laerskool Nylstroom, Hempies Du Preez, te wees wat terminaal siek geword het. Dit is ’n baie moeilike tyd vir ons. Hy is gediagnoseer met breinkanker en hy sterk tans aan na ’n brein operasie in ’n hospitaal in Pretoria. Die naweek is tweeledig, want ons kan saam met my ouers Paasfees vier en ook tyd saam met my skoonpa spandeer en hom ondersteun.

Tinelle Crous.

Tinelle Crous, bedryfsbestuurder van Noordstaal-staalwerke:

Ons gaan die Paasnaweek kamp, rustig tyd saam met ons familie spandeer. As gesin sal ons die ware betekenis van die Paasfees bespreek, uit die Bybel lees en in dankbaarheid, vier dat ons verlostes is. Daarna sal ons dit prettig maak vir Careltjie, ons 5-jarige, met ’n paaseier soektog. Ons maak seker hy weet waaroor hierdie tyd regtig gaan en dan bring ons die fantasie en die “magic” in. Die paashaas is mos koel.

Lientjie Botha.

Lientjie Botha, saakgelastigde (”Kerktannie”) van NG Warmbad Wes Kerk:

Paasnaweek is vir my ’n tyd van refleksie en dankbaarheid. Dit is familietyd! Ons gaan Vrydag nagmaal gebruik by ons kerk. Dan is ons in die kar op pad na ’n lekker naweek in Parys saam met familie. Die Paashaas gaan natuurlik kom kuier vir ’n paaseier skattejag!

Lizet Fouché.

Lizet Fouché, Domus Atiz Creative Living-kunsateljee eienaar:

Die 28ste Maart begin my verlof en die Paasnaweek gaan ek net rustig deurbring, my batterye laai en stil word. Dit is belangrik om net weer te onthou waarom ons die Paastyd vier. Elke dag is soveel genade! Ek gaan ook aan my eie skilderye en bestellings werk.

Related Articles

 
Back to top button