Local news

Marietjie verruil drukkersink vir volkleurpalet

Marietjie Steenkamp, wat die afgelope tien jaar Die Pos se verslaggewer in Mookgophong was, lê haar koerantpen neer.

Dié besige Engelse juffrou van Hoërskool Hans Strijdom, gaan haar nou toespits op die skool en hand bysit by haar man, Gerhard, se nuwe onderneming.

Diegene wat Steenkamp ken, weet dat sy die lewe in volkleur aanpak. Sy het jaarliks vir Die Pos vrolike feestafels gedek vir koerantfoto’s. Sy en haar kunstenaarsdogter Corietha Müller, pak gereeld nuwe kunsprojekte saam aan. Ons drink koffie by Müller se huis waar die vinkgeel mure met hul interessante kunswerke en kaste vol versamelkoppies roep vir ’n naderkyk.

Van die pragtige glas kunswerke wat Marietjie en haar dogter Corietha Müller maak.

Steenkamp is nog altyd lief vir skryf en haar dogter maak haar kortverhale bymekaar om eersdaags ’n bundel te publiseer.

Sy vertel laggend: “Soms kom die stories sommer vanself. Ek het eendag toesig gehou tydens ’n eksamen waar die kinders iets moes skryf oor die ‘Blonde blou-oog van Bethuli’. Die oomblik toe die eksamen verby was het ek ’n leë vraestel gegryp en begin skryf aan die storie wat in my kop gebroei het.”

Sy het die storie op Facebook geplaas en dit was so gewild dat sy tien episodes daarvan geskryf het.

Benewens skryf en skoolhou doen sy ook glaswerk en maak mooi verpakte lekkergoed.

“Ek en Corietha het besluit ons dra elke dag vanjaar ‘glitter’ op ons oë. Die lewe is eenvoudig te kort. Hoekom in pas wanneer jy kan uitstaan?” lag sy.

Steenkamp, wat op die Springbokvlakte groot geword het en aan Hoërskool Warmbad gematrikuleer het, het aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy het later in Lephalale skool gehou en haar man by ’n visbraai op Steenbokpan ontmoet.

“Verbeel jou, ’n visbraai op Ellisras. Ek belowe jou dit was ’n kabeljou en nie ’n baber nie!” lag sy vrolik.

Hulle het in 2007 Mookgophong toe verhuis waar sy eers haarself eiendomsagent gehou het en funksies georganiseer het, voordat sy in 2011 ’n pos by Hoërskool Hans Strijdom aanvaar het.

“Om hierdie boertjies Engels te leer het vir ’n paar lekker-lag-staaltjies gesorg. Ons het soveel lekker oomblikke in die klaskamer, al sit ek soms ’n sirkus op om die kinders te help onthou,” vertel sy. “Ek is mal daaroor om met die kinders te werk.”

Haar gunsteling skryfwerk was wanneer sy aan Die Pos se bylaes kon werk waar sy ook die foto’s geneem het.

“Dit was nie vir my lekker om hardenuus stories te doen waar daar baie hartseer by betrokke is nie,” bieg sy.

Hoewel haar naam nie meer as verslaggewer in Die Pos gaan verskyn nie, gaan sy steeds in volkleur voortwoeker in Mookgophong. Soos sy sê: die lewe is te kort vir stilsit!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button