LettersOpinion

Brief: Goeie diens bestaan nog

Tien minute later het ek met ’n huppel in my stap daar uitgestap, want ek het weer moed vir ons mooi land.

Hannes van Heerden, Settlers, skryf:

Sowat ’n maand gelede ontdek ek met ’n skok dat my vuurwapenlisensies eersdaags verval en sonder verwyl hernu moet word.

Met ’n swaar hart berei ek my voor vir die gesukkel wat nou voorlê. Ek was immers self 56 jaar gelede in uniform en die swak dissipline by die manne en vroue in uniform wat ek gereeld op televisie sien, is vir my ’n doring in die vlees.

Met allerhande vooropgestelde gedagtes van die swak diens wat ek gaan aantref, staal ek myself en meld by die polisiestasie in Bela-Bela aan.

Groot was my verbasing toe ’n vriendelike, jong polisieman met ’n netjiese uniform vir my in Afrikaans sê: “More Oom, kan ek help?”

Ek dink hy het die verbasing op my gesig gesien en het my met ’n glimlag na die kantoor van kapt. Jacques Vierbergen begelei.

Ek is weer eens hoflik behandel en die nodige vingerafdrukke en talle vorms is op ’n doeltreffende en uiters professionele wyse voltooi. Hulle het tot verskoning gevra dat my hande vuil was van die vingerafdrukink.

Tien minute later het ek met ’n huppel in my stap daar uitgestap, want ek het weer moed vir ons mooi land.

Terwyl ek teruggery het Springbokvlakte toe, het ek gedink dat ons ’n nasie geword het wat oor alles kritiek het en kla voordat daar rede is.

Ons het ’n onvergenoegde nasie geword. Kom ons gee ’n kompliment waar dit nodig is — of dit die motorwag, bankklerk, pakker in die supermark of ’n staatsamptenaar is wat dit verdien.

Kom ons kritiseer net wanneer dit geregverdig is.

Nogmaals dankie aan kapt. Vierbergen en die ander personeel by die Bela-Bela-polisiestasie vir jul uiters professionele en vriendelike diens. Julle is ’n voorbeeld vir ons almal.

Related Articles

Back to top button