Letters

Brief: Plaasmisdaad meer as net statistiek

Die moeilike beleidsomgewing waarbinne landbouers moet boer skep ook nie die nodige vertroue vir buitelandse beleggings nie.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder TLU SA, skryf:

TLU SA is bekommerd dat die Suid-Afrikaanse owerhede meer op misdaadstatistiek as op misdaad self fokus.

Volgens TLU SA se nuutste statistiek is 18 plaasaanvalle en twee plaasmoorde tydens Januarie en Februarie 2024 aangemeld. Hoewel dit laer as in Januarie en Februarie 2023 is toe 38 plaasaanvalle en vyf plaasmoorde aangemeld is, moet ons waak om nie net met ’n statistiese oefening besig te wees nie. Agter die syfers is die werklikheid van traumatiese lewensverlies, voedselsekerheid wat bedreig word en werksgeleenthede wat in gedrang kan kom.

“Alhoewel daar ’n afname is in die aantal plaasaanvalle en moorde wat in die eerste twee maande van die jaar aangemeld is, wil TLU SA die publiek steeds waarsku om veiligheidsbewus te bly en landelike veiligheid ’n prioriteit te maak,” sê Gawie Lötter, TLU SA dienste bestuurder.

In die lig van die opkomende verkiesing is dit maklik vir die publiek om hulself blind te staar teen die beloftes wat politieke partye maak met die hoop om stemme te werf of behou.  Suid-Afrika se kommersiële boere is onder druk en dit word deur onrealistiese politieke beloftes vererger.

Die moeilike beleidsomgewing waarbinne landbouers moet boer skep ook nie die nodige vertroue vir buitelandse beleggings nie. Kernaspekte soos landelike veiligheid en goeie infrastruktuur, wat kragvoorsiening insluit, daal daagliks en stimuleer nie ekonomiese groei vir Suid-Afrika nie.

Die afgelope somer se hoë temperature en daarmee gepaardgaande droogte wat op ’n kritieke groeityd groot dele van ons land getref het, het op baie plase rampspoedig geëindig met boere wat hul hele oes verloor het.

Landsburgers moet onthou plase is die ruggraat van die samelewing dien. Plase voorsien noodsaaklike voedsel en dra tot die ekonomie by.

Voedselsekerheid is een van ’n land se belangrikste stabiliseerders en gegewe Suid-Afrika se werkloosheid en gepaardgaande armoede, des te meer.

Ons kan nie bekostig om ons voedselproduseerders te verloor nie. ’n Regering wat nie besef dat hul grootste bate inderdaad suksesvolle kommersiële boere is nie, is uiters kortsigtig.

Dié boere behoort gekoester te word en alles moontlik moet gedoen word om hulle in produksie te hou.

Landelike veiligheid bly steeds die staat se verantwoordelikheid, maar by gebrek aan prestasie speel die boer ‘n groot rol. So behoort die hele Suid-Afrika, en veral politieke partye, dit ook as ’n baie hoë prioriteit te beskou.

Related Articles

 
Back to top button