Local sport

Dié sportsoort gedy

Perderuiters wat pensteek (tent pegging) as sport beoefen, het op Saterdag 8 Julie hul vernuf gewys toe hulle aan die Waterberg-pensteekklub se Limpopo Champs-kompetisie by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong deelgeneem het.

Dit was die eerste keer sedert 2019 dat hierdie kompetisie weer in Limpopo aangebied is.

Volgens Fanie van Staden, voorsitter van die Waterberg-klub, het 16 senior en nege junior ruiters van sewe spanne die byeenkoms bygewoon. Die spanne wat meegeding het, is Waterberg, Rus-tevrede van Van der Bijlpark, Oos-Rand, Rooikatte en Nkangala (van Mpumalanga) en Jakaranda van Rustenburg. Die Jakaranda-span spog met ’n bekende spanlid, Armand Thunder Merwe (The Singing Cowboy). Hy is deel van die Proteaspan wat Suid-Afrika in Augustus 2023 in die Wêreldbeker-byeenkoms in George sal verteenwoordig.

Die prysuitdeling van die Limpopo-kampioenskap is tydens die byeenkoms gehou. Die mans senior en Victor Ludorum is toegeken aan Fanie van Staden (voorsitter van die Waterberg-klub). Die toekenning vir beste vordering is deur Ané Pretorius verower en die beste vroue junior en Victrix Ludorum is Sanel van Zyl van Waterberg.

Die Waterberg-klub se junior pensteekspan het puik presteer in die Limpopo-kampioenskap. Hulle is Ané Pretorius, Nialize Jordan, Sanel van Zyl, Helene Besseling en Lana Lewies. Hierdie ruiters het ook verskeie pryse ingepalm.

Die volgende kompetisie sal op Saterdag 22 Julie in Sasolburg plaasvind. Dit sal ook ter voorbereiding van die nasionale kompetisie wees wat in die eerste week van Oktober plaasvind.

Van Staden het sy dank uitgespreek teenoor al die borge van die dag.

  • Pensteek is ’n gewilde perdesport. Die doel is dat ’n ruiter op ’n galop ’n teiken moet raak steek, dit dan optel en met ’n lans of swaard in die lug hou. Die sport word in baie lande regoor die wêreld beoefen. Volgens die Suid Afrikaanse Pensteek-vereniging het die sport sy eerste amptelike erkenning gekry toe die Olimpiese Raad van Asië pensteek in 1982 as ’n amptelike sportsoort in die Nieu-Delhi Asiatiese Spele aanvaar het. Daarna het Indië, asook ander lande, gereeld internasionale pensteekkompetisies aangebied wat deelname van lande oor verskillende kontinente byeen gebring het.

Deesdae gebruik die ruiter ’n lans of ’n swaard en jaag in ’n volle galop oor die arena wat in die reëls gespesifiseer word en probeer om die houtpenne wat in die grond vasgesteek is, op te tel.

Dit kan individueel of as ’n spansport beoefen word.

Related Articles

 
Back to top button