680km se fietstrap vir fondse
NIGEL - Drie Nigeliete het ‘n moordende tog van 680km na Durban op hul fietse aangepak om fondse vir die Kowa Pienaar Tuiste vir Bejaardes in te samel.

Die Kowa Pienaar Durban Cycling Challenge (KPDCC) vloei voort uit ‘n soortgelyke projek deur Whitey Nel in 2010, toe hy die Whitey Nel Fietstoer op die been gebring en op 73-jarige ouderdom die tog van 650km aangepak het om fondse vir Nigel Tuiste vir Bejaardes in te samel.
Na sy afsterwe het plaaslike fietsryers die tradisie vir ‘n paar jaar voortgesit en mettertyd is die projek na ander tuistes oorgedra.
Altesaam sewe spanlede, waaronder Johan Ekermans, Charlotte Wheeler en Berta Jones van Nigel het hul gewig by die KPDCC gevoeg en op 29 Augustus vanaf die afsetpunt by AJ Motors vertrek.
Die traproete is as volg: dag een – Nigel na Standerton (116km); dag twee – Standerton na Volksrust (83km); dag drie -Volksrust na Newcastle (55km); dag vier – Newcastle na Ladysmith (101km); dag vyf – Ladysmith na Estcourt (77km); dag ses – Estcourt na Pietermaritzburg (110km) en 88km vanaf Pietermaritzburg na Durban tydens die laaste skof.
Volgens Dawie Lee, bestuurder van die Kowa Pienaar Tuiste vir Bejaardes, het die span sowat R12 000 ingesamel. Enige persoon wat tot die fondsinsameling wil bydra, kan die tuiste bedags by 011?916?1262 skakel.
(Vir meer foto’s en ‘n videogreep, besoek www.heidelbergnigelheraut.co.za)

Berta Jones, Charlotte Wheeler en Johan Ekermans van Nigel het op 29 Augustus die moordende tog van 680km na Durban op hul fietse aangepak om fondse vir die Kowa Pienaar Tuiste vir Bejaardes in te samel.

Die eerste skof van die Kowa Pienaar Durban Cycling Challenge het op 29 Augustus by AJ Motors weggespring en 116km verder in Standerton geëindig.



