Geen lafenis by Alrapark swembad meer
NIGEL - Lafenis wat die munisipale swembad Alraparkers sedert 1 September gebied het, was van korte duur.

Die swembad is weens tegniese probleme met die filtreringstelsel onbepaald gesluit.
“Ten spyte van herhaaldelike versoeke aan Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit (EMM), is filtreringsprobleme wat sedert die begin kop uitgesteek het, geïgnoreer. Ek is egter positief dat die swembad binne die volgende maand weer operasioneel sal wees sodat die gemeenskap die diens waarop hulle geregtig is, kan benut,” het DA raadslid Wally Labuschagne op 15 Oktober aan HERAUT verduidelik.
Hy het bygevoeg dat EMM versoek is om behoorlike datums en tye by die swembad aan te bring, sodat die publiek dienooreenkomstig ingelig kan wees. Alraparkers het gekla die swembad-ure is ongereeld en dat dit soms 14:00 op Sondae en publieke vakansiedae sluit.
HERAUT is in afwagting op antwoorde vanaf EMM.




