Nigel se geestelike rigtingaanwyser in lig gebaai
NIGEL - Byna twee jaar na oprigting van die ysterkruis by die R42-kruisting, is die ligte op 7 Desember vir die eerstekeer aangeskakel. Die helder verligte staalgestalte van 2,4 ton is vir etlike kilometers sigbaar en simboliseer geestelike rigtingaanwysing aan diegene wat in die donker wandel.

NIGEL – ‘n Ysterkruis van 2,4 ton is op 1 Maart verlede jaar by die R42-kruising buite die dorp opgerig, maar sou eers in April amptelik onthul word wanneer die ligte aangeskakel word.
Talle tegniese struikelblokke het die kruis egter vir byna twee jaar in die donker gelaat, maar op 7 Desember is die ligte aangeskakel en die projek volbring – betyds om dié Christusfees in helder lig te baai.
Die idee van ‘n kruis het as ‘n geloofsbesluit by gospelsanger Rudi Muller ontstaan na sy bekering in 2012. Met die hulp en finansiële ondersteuning van plaaslike sakemanne en Nigel AGS Aquilla gemeente is die kruisoprigtingprojek van stapel gestuur en het ‘n jaar geneem om te voltooi. Die kruis van 15m by 9m is op 1 Maart met behulp van ‘n hyserwerktuig gelig en in posisie geplaas.
“Daar het dinge in my lewe gebeur waarop ek nie trots is nie. Ek het gevoel dat baie mense soos ek, van die regte pad afgedwaal het en dat ‘n kruis geestelike inspirasie en aanwysing sou bied,” het Rudi destyds gesê.
Die helder verligte kruis is vir etlike kilometer sigbaar en simboliseer geestelike rigtingaanwysing aan diegene wat in die donker wandel.




