Nigel Rugbyklub se eerstes hardloop kringe om Sasolburg
NIGEL - ‘n Titaniese stryd het hom die afgelope naweek by John Vorster Stadion afgespeel, toe Nigel Rugbyklub kragte teen Sasolburg Rugbyklub gemeet het.
Nigel se o/21s het die gordyn kort na 13:00 gelig en hoewel hulle nie daarin kon slaag om ‘n wen op tuisveld te verseker nie, het hulle vir aanskoulike rugby gesorg. Die eindtelling was 31/22 in Sasolburg se guns, maar die negepunt agterstand het bewys dat Nigel Rugbyklub se junior span met elke wedstryd beter vaar en nie in sak en as is oor die verloor nie.
In die volgende kragmeting het Nigel se tweedespan die knie met ‘n skamele vier punte gebuig. Ondanks hul nederlaag het die tuisspan se volgehoue toewyding die bestuurspan, sowel as ondersteuners beïndruk. Die eindtelling was 17/13 in Sasolburg se guns.
Kort na 16:00 het Nigel en Sasolburg se eerstes mekaar die stryd aangesê. Vanaf die afskop het die tuisspan beheer geneem en die oposisie op die agtervoet geplaas. Sasolburg kon slegs eenkeer daarin slaag om agter Nigel se doellyn te kuier en het slegs sewe punte teenoor die tuisspan se 38 aangeteken.






















