Om af te tree is ‘n besluit wat dikwels groot kommer onder bejaardes wek, maar die spesiale tydperk in ‘n persoon se lewe behoort nie ‘n nagmerrie te wees nie.
By die Suikerbosoord Dienssentrum in Heidelberg word daar na alle aspekte van ouer mense se welstand omgesien en met 20 nuwe wooneenhede wat tans in die gesogte omgewing opgerig word, is hier die geleentheid om die beste sorg en veiligheid tydens u goue jare te ervaar.
Aktiwiteit is ’n essensiële deel van ’n mens se lewe en vir die meeste mense is die belangrikste en belonendste aktiwiteit sy beroep.
Hierdie aktiwiteit is so belangrik dat dit een derde van ’n mens se dag in beslag neem. Dan skielik kom daar ’n einde aan.
Dit word afgegrens deur tradisionele baken van ‘n partytjie, ’n toekenning en/of ’n pensioen. Aan die een kant van die baken was arbeid — aan die ander kant, geen arbeid meer nie.
Aftree beteken om uit diens te tree, betrekking of amp neer te lê, maar word die individu se gewilligheid tot hierdie stap oorweeg?
Die konsep van aftree en pensioen is relatief gesproke ’n begrip van die twintigste eeu.
Dit is ’n moderne idee dat elke werkende man of vrou hul betrekking op ’n sekere ouderdom moet staak en daarna ’n bestaan met ’n versekerde inkomste moet voer.
In werklikheid is dit so nuut dat daar nog nie geleentheid was om die werklike implikasies daarvan in oënskou te neem nie. Daar is dus nog nie genoegsame aandag geskenk aan die gedagte van voorbereiding vir aftrede nie.
Ouers beplan ’n kind se skoolloopbaan, die adolessent beplan sy werksloopbaan, die jong persoon beplan sy huwelik, daar word beplan vir bevordering in die beroep van jou keuse en baie beplan vir die dood deur die opstel van ’n testament of uitneem van begrafnisversekering.
In die Westerse wêreld alleenlik is daar 291 miljoen persone bo die ouderdom van 60 jaar en elke dag is daar veertien duisend mense wat aftree, ongeag hul potensiële bydrae tot die industrie, handel en staat. Die behoeftes van hierdie groep in die gemeenskap word al hoe groter en belangriker aangesien die werkkrag van die gemeenskap nie die afgetredene vir ’n onbepaalde tydperk kan onderhou nie.
Tegnologiese vooruitgang moedig vroeë aftrede aan. Rekenaars vervang ’n groot aantal werknemers en in sekere lande word werknemers ’n bedrag geld betaal indien hulle op 60 jaar in stede van 65 jaar aftree. Hierdie persone het dan moontlik nog twintig aktiewe lewensjare oor waarvoor hulle onvoorbereid is.
In 1900 was 6% van Brittanje se bevolking op aftree-ouderdom en die meeste sonder pensioen. In 1975 het die aantal tot 20% gestyg. Hierdie persone se lewensstandaard moet styg met dié van die res van die bevolking, en die finansiële implikasies hiervan is verreikend.
’n Voldoende inkomste na aftrede sal afhang van die persoon se pensioen en eie spaargeld. Verder kan aftrede gesien word as ’n proses van wedergeboorte. Soos alle geboorteprosesse is daar gevare aan verbonde; geringe probleme kan ontstaan en soms kan tragedies voorkom.
Vir die meeste kan en behoort dit egter ‘n vreugdevolle gebeurtenis te wees. Soos in alle menslike situasies is voorkennis van die omvang van die gebeure ’n wyse waarop ‘n treurspel vermy, probleme bekamp en sukses verseker kan word. Die verantwoordelikheid om te bepaal of sy aftrede ’n heuglike gebeurtenis of ’n tragedie gaan wees, berus by elke individu self.
Die geslag wat nou aftree het nie die voorreg van ouerlike advies oor aftrede gehad nie, omdat aftrede skaars in hulle leeftyd bestaan het. Die mense in die gemeenskap weet hoe om hulle tande te borsel en ’n voedsame dieet te volg, maar geen kennis oor aftrede word aan hulle oorgedra op skool- of kollegevlak nie. Die meeste literatuur oor die onderwerp het eers die afgelope dekade verskyn.
Die hoofdoel van aftrede is om die persoon te vergoed vir sy bydrae en diens aan die gemeenskap – om op sy oudag te kan ontspan behoort die hoogtepunt van sy prestasie te wees.
‘n Persoon se houding teenoor aftrede beslis egter die mate van toekomsgeluk.
Nuwe uitdagings en geleenthede moet in die lewe gevind word om ons geestes- en liggaamlike vermoëns te stimuleer.
By Suikerbosoord Dienssentrum word al hierdie vereistes reeds vir dekades in ag geneem. So waarom dan huiwer om van die geleentheid gebruik te maak.

Follow us on:



