Inwoners raadop met borrelende rioolwater
Ontstoke inwoners van Eeufeeslaan kan die borrelende rioolwater en ondraaglike stank in hul erwe nie langer trotseer nie.
Menslike ontlasting is duidelik sigbaar in die rioolwater en die sterk teenwoordigheid van alge daarin dui op ‘n ondergrondse verstopping.

Volgens Margie Coetsee wat die afgelope 30 jaar in Eeufeeslaan woon, lê die probleem by die infrastruktuur.
“Dit is nie ‘n geval dat ons klagtes by die munisipaliteit op dowe ore val nie. Sodra ons dit rapporteer, daag ‘n span werkers op en verwyder die blokkasie in die rioollyn. Die probleem is duidelik die rioolpyp self wat te klein is om die volume rioolwater te hanteer,” het sy gesê.

Sy het ook verduidelik dat die rioolnetwerk jare gelede gebou is om slegs ‘n beperkte hoeveelheid rioolwater te hanteer.
Intussen het die infrastruktuur uitgebrei, sonder dat die rioolnetwerk aangepas is.
HERAUT wag nog op kommentaar vanaf Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit.



