Geen keer aan Nigel se rugbymasjiene
Nigel Rugbyklub se drie spanne het die afgelope naweek ‘n titaniese stryd teen Vaal University of Technology (VUT) gevoer.
Die o/21s het die dag se wedstryde geopen. Kort na afskop het VUT egter die eerste punte op die telbord aangeteken en binne die eerste 20 minute van spel weer agter die pale gekuier. Nigel het teruggeveg en teen halftyd was die telling 12-7 in VUT se guns.
Die tweede helfte het die tuisspan ‘n sterk aanvalspatroon gevolg en weer met ‘n drie geslaag om die telling gelykop te maak. Willie van As en Heinrico Schutte was die enigste puntemakers van die wedstryd.
Die tweedespan se kragmeting daarna het slegs twee drieë (albei deur George Fritz) opgelewer. Dawie Strauss het die drieë suksesvol verdoel. Die eindtelling was 14-0 in Nigel se guns.
VUT se eerstespan het geweet hulle het met Nigel se onoorwonne span te doen toe die tuisspan binne 10 minute na afskop punte aangeteken het. Ondanks sterk verdediging deur die opposisie kon hulle nie die aanval stuit nie.
Reon Bezuidenhout en Ollie le Roux het elk een drie gedruk terwyl Henk Marais tweekeer agter die pale gekuier het. Bezuidenhout se skopskoen het die span ‘n verdere agt punte besorg terwyl die opposisie slegs vyf punte kon aanteken. Die eindtelling was 28-5 in Nigel se guns.
Die volgende kragmeting is weer teen VUT en vind op 5 Mei by VUT se velde in Vereeniging plaas.



