LettersNewsOpinion

BRIEF: Heidelberg munisipale bestuur se rede vir slaggate ongegrond

In die afgelope twee jaar wat ek hier woon het ek in die geval van sommige slaggate geen pogings gesien om dit te herstel nie, selfs nadat ek dit persoonlik aangemeld het.

F Snyman skryf:

Ek wil graag kommentaar lewer op ‘n berig wat op bladsy 3 van HERAUT 18 April 2018 (Inwoners sal self moet inspring en paaie herstel, sê munisipaliteit) verskyn het.

 
Enige geteerde straat in Heidelberg bestaan normaalweg uit ‘n stutlaag of twee en ‘n kroonlaag wat bedek word deur ‘n slytlaag wat bekend staan as die teerlaag.

 
Mnr Paul Mpele van die plaaslike munisipaliteit beweer dus dat die stutlae en kroonlaag van die ouer strate nie sterk genoeg gebou was vir huidige verkeersvolumes nie.

 
Ek wil graag totaal van hom verskil en my opinie is dat daar bitter min verkeerd is met die strate se fondasies en dat die hele probleem is dat daar bittermin onderhoud uitgevoer is op die slytlae van die strate in die afgelope 20 tot 25 jaar.

 
Enige teerstraat se slytlaag moet na ongeveer 10 jaar ondersoek word en weer hersëel word indien nodig. Dit beteken dat enige munisipaliteit met ‘n funksionerende stadsingenieurs departement versoek jaarliks fondse vir die instandhouding van strate en herseël daarvan in sy jaarlikse begroting.

 
Indien net ‘n onbenullige bedraggie daarvoor begroot word, dan gaan die strate uiteindelik in die geheel begin verval soos wat tans die geval in Heidelberg is.

 
In die afgelope twee jaar wat ek hier woon het ek in die geval van sommige slaggate geen pogings gesien om dit te herstel nie, selfs nadat ek dit persoonlik aangemeld het.

 
Dit wil voorkom of daar jaarliks nie eens genoeg begroot word om slegs net die slaggate alleenlik te herstel nie, wat nog te sê van die herseël van die oppervlaktes. Dit is onaanvaarbaar en dui op uiters swak bestuur van ‘n kosbare bate van die munisipaliteit.

 
Ek het as ‘n siviele ingenieurstegnikus tientalle jare vir verskeie munisipaliteite gewerk en begrotings help opstel vir die instandhouding van paaie en wil mnr Mpele aanraai om eers kundige advies in te win voordat hy die blaam probeer verskuif vanaf die huidige bestuur en ‘n ongegronde stelling maak.
Vriendelike groete

 
F Snyman, HEIDELBERG.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button