Local newsMunicipalNews

Vullis oorlaaistasie verdien ‘n skamele 18% in oudit

Lesedi Plaaslike Munisipaliteit se vullis oorlaaistasie in Ratanda het weereens ‘n swak oudit van AfriForum ontvang.

Dr Willem Sprong (voorsitter: AfriForum Heidelberg) het die oudit in Maart gedoen en volgens AfriForum se algemene kontrolelys vir minimum vereistes vir vullisterreine het die plaaslike oorlaaistasie slegs 18% behaal.

 
AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet. Slegs twee (Meyerton en Roodepoort/Krugersdorp) uit agt vullisterreine wat in Gauteng-Suid geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen.

 
Die oudit bestaan uit ‘n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in die land meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ‘n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

 

Volgens Dewet Ungerer (Afriforum se assistant-koördineerder: Wes-Rand) is die meeste vullisterreine in die gebied in ‘n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan wanbesteding van fondse en die onkundige besluite wat in hoë posisies gemaak word.”

 

Volgens die oudit wat Sprong gedoen het, het die plaaslike oorlaaistasie geen naamborde nie en is daar ook nie ‘n kennisgewing op die hek wat aandui watter tipe afval daar gestort mag word nie. Die ure wat die stasie oop is, moet ook aangedui word.

 
Van die ander punte waaraan die stasie nie voldoen nie is ongeteerde paaie wat nie gereeld natgemaak word om stof te voorkom nie en die heining om die terrein was nie onderhou nie.

 

Tydens Sprong se besoek, was daar geen toegangsbeheer nie en was die afwesigheid van sekuriteitswagte by die hek ooglopend. Afval is ook nie geïnspekteer voordat dit aanvaar word nie (geen mediese of diere-afval soos karkasse en bene mag gestort word nie).

 
Stortingstariewe word nie op kennisgewingborde aangebring nie en geen stortingstariewe word ingewin nie. Dit was duidelik dat die stasie nie oor voldoende masjinerie beskik nie en toerusting word nie in ‘n werkende toestand gehou nie. Daar was ook geen toesighouer, bestuurder of sekuriteit op die terrein nie.

 
Met Sprong se besoek ‘n maand gelede het die algemene toestand van die oorlaaistasie effens verbeter. Daar was minder vullis wat beteken dat dit gereeld na die Platkop Stortingsterrein vervoer word. Die buitemuur van die terrein is ook herstel.

 
Sprong en Ungerer het die oorlaaistasie weer op 5 Junie besoek en bevind dat dit (behalwe vir die heining en minder vullis) steeds nie aan die res van die vereistes voldoen het nie. Sprong het gesê die toestand van die vullisterrein en AfriForum se bevinding is al menigmaal aan Lesedi Plaaslike Munisipaliteit gestuur, maar tot op hede is geen terugvoer ontvang nie.

 

Hy het bygevoeg dat daar verlede jaar tydens die IDP vergadering druk op die munisipaliteit gesit is om die oorlaaistasie by hul begroting te voeg sodat fondse daarvoor beskikbaar gemaak kan word. “Die munisipaliteit steur hulle egter nie aan ons versoek nie,” het Sprong gesê.

 

Ungerer het in sy verslag gesê dat die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die tekort aan die nodige hulpbronne by vullisterreine van die grootste probleme was wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het.

 
“AfriForum sal die ouditverslag aan die Groen Skerpioene (vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige partye) oorhandig. Ons sal die proses deurlopend monitor om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word,” het Ungerer afgesluit.

 

Volg ons op:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button