Huldeblyk aan geliefde eggenoot en familie-man Stephen Trent
HEIDELBERG – Stephen Trent (54) het op 1 Mei in ’n brand by sy huis gesterf.
Stephen is deur familie en vriende beskryf as ’n geliefde eggenoot, pa, oupa, vriend en oom wat lief was vir sy familie.
“Hy het altyd almal laat lag met sy goeie sin vir humor. Hy was ’n staatmaker wat almal bygestaan en ondersteun het,” het sy ma vertel.

Sy vrou, Sonja, wat aansterk by familie nadat sy ook in die brand beseer was, het gesê: “Stephen was my alles. Ons het saam gelag en gehuil. Hy was ’n fantastiese pa en man.”
Hy is deur sy swaer, Deon, as ’n ware broer beskryf.
“Ons het gelag vir dieselfde grappies en soms net mekaar se stilte geniet. Hy was ’n rots in ons lewens en ons sal hom vir altyd mis.”

Stephen se begrafnisdiens het op 7 Mei plaasgevind en was op YouTube gestroom. Briewe, boodskappe en foto’s op sy begrafnisblad was ’n huldeblyk aan sy lewe.




