Leer ons mense ken – Bernard Raubenheimer
Bernard Raubenheimer (60) is bekend vir sy karate dojo en krieketklub. Hy en sy vrou, Karen, is 35 jaar getroud en die egpaar het twee kinders. Bernard woon al 50 jaar in Heidelberg. HERAUT het by hom gaan kuier om die sportliefhebber beter te leer ken.
Hoe lank doen jy al karate?
Sewe-en-veertig jaar.
Waar het jou liefde vir die sport ontstaan?
My pa het my ingeskryf sodat ek myself kan verdedig. Ek was ’n klein outjie en bietjie geboelie op skool.
Wanneer het jy by krieket begin betrokke raak?
In 1998 toe my seun, Nico, talent en entoesiasme daarvoor getoon het. Ek het tekortkominge vir jongspelers gesien en die klub in 1999 begin.
Wat is jou gunsteling sport?
Op die stadium gholf aangesien karate as ’n kuns geklasifiseer en nie ’n sport nie.
Hoekom sal jy mense aanraai om deel te neem aan karate?
Dit is ’n lewenswyse. Dit leer jou nie net fisiese selfverdediging nie, maar ook op elke ander gebied in jou lewe. Daar is ander positiewe aspekte, maar mense kan my skakel. Ek vertel graag.
Jy het onlangs uitgetree uit die polisie, hoe lank was jy in die diens?
Veertig jaar.
Wat doen jy in jou vrye tyd?
Los werkies by die huis, sien om na die krieketklub en speel gholf.
Wat is jou gunsteling kos?
My vrou se kookkos.
Wat is jou opinie oor hoe die pandemie die sportindustrie beïnvloed het?
Dit het ’n groot invloed gehad, nie net op gesondheids- en liggaamlike aspekte nie, maar ook op psigiese aspekte. Baie klubs het daaronder gely. Toegemaak weens val van ledetal en finansiële probleme.
Waar hou jy graag vakansie?
Buffelsbaai naby Knysna.
Wat weet die gemeenskap nie van jou nie?
Dat my swakpunt Fizzers is.
Hoe dink jy sal jou vriende jou beskryf in drie woorde.
Reguit, betroubaar en lojaal.



