Heidelberg erfenis leef voort met vierde blou plaat
Die huis het aan die Britse Goodwin gesin behoort gedurende 1881.
HEIDELBERG – Heidelberg se erfenis duur voort met die onthuldiging van nog ’n geskiedkundige plaatjie wat by Van der Westhuizenstraat 1 op 28 Mei opgerig was.
Die huis het aan die Britse Goodwin gesin behoort gedurende 1881.
John en Maria Goodwin se dogter, Edith, was in 1876 in ’n ossewa naby Kimberley gebore. Sy het in 1881 saam haar gesin na Heidelberg toe gekom.
Tydens die Tweede Anglo Boere Oorlog het Edith, wat toe 24 was, as verpleegster by die hospitaal gewerk. Edith het nooit getrou nie aangesien haar eerste liefde in die oorlog gesterf het.
ALSO READ:
Sy was ’n Engelse vrou wat deel was van die St Ninian’s Anglikaanse kerkgemeente in Voortrekkerstraat en het haar besig gehou het met die lot van die Boere.
Sy was ook die peetma van Sybrand van der Spuy (78) wat in Heidelberg grootgeword het en steeds in die dorp bly. Sybrand het vertel toe hy sewe jaar oud was, het hy en sy sussie, Elize, elke Saterdag vir Tannie Edi gaan kuier.
Sy het vir hulle stories gelees, saam met hulle miniatuur golf gespeel en vanaf die stoep van die ongerepte eiendom kos vir die voëltjies gegooi.
“Sy het ’n 1938 Chev besit, alhoewel sy nooit ’n bestuurslisensie gehad het nie. As haar drywer Nathan haar elke Maandagoggend kom haal het om Heidelberg Kloof toe te gaan, het sy ons saam gevat om na die bobbejane te kyk wat hulle verlekker het in die oorblywende kos van piekniekgangers,” het Sybrand vertel, wat ook genoem het dat hy ’n Krugerrand by haar gekry het met sy doop.Edith is in Julie 1956 op die ouderdom van 80 jaar oorlede en saam met haar gesin in die Kloof-begraafplaas begrawe.
Ter ere aan haar toewyding aan mense en die kerk, is ’n gedenkplaat van haar in die St Ninian’s Anglikaanse Kerk opgerig.
Die geskiedkundige huis was ook op ’n tyd die woning van Eugène Marais, wat ’n Suid-Afrikaanse advokaat, natuurkenner, digter en skrywer was.
Corné en Zanelle Duvenage is die huidige huurders en was aangenaam verras met die stukkie geskiedenis.
Die blou erfenisplaat is deur die eienaars van die eiendom, Div en Lindie du Plessis, geborg.
Die volgende blou erfenisplaat sal by die ou Klipkerk Pastorie te Van der Westhuizenstraat 29 op 4 Junie onthul word.
Vir meer besonderhede kan Tony Burisch by 072 460 9663 geskakel word.








