Local newsNews

Leer ons mense ken – Johann Strauss

Johann Strauss (70) is saam met sy vrou, Annetjie, die afgelope 36 jaar die eienaars van Suikerbosrand Makelaars.

Johann woon sedert 1983 in Heidelberg. Die egpaar sal in Oktober hul 50ste huweliksherdenking vier. Hulle geniet veral tyd saam met hul twee seuns en vier kleinkinders.

Waar het jy groot geword?

Boshof in die Vrystaat.

Waar het jy studeer?

Ek het studeer by verskeie instellings, onder andere Unisa, Universiteit van Potchefstroom en Damelin. Ek het ook geleentheid gehad om by twee besigheidskole in Brittanje te studeer en het ’n finansiële bestuursdiploma by Ashridge en bemarkingsdiploma by Sunridge verwerf.

Hoe het Suikerbos Makelaars begin?

My vrou was die stigter in 1985. Ek het ses maande later by haar aangesluit.

By watter organisasies is jy betrokke?

Ek was op ’n tyd by 14 organisasies gelyktydig betrokke. Alhoewel ek nou afgeskaal het, is ek steeds op hoogte van gebeure en hou graag rekord in my plakboek. Ek en my vrou was albei ere-veldwagters van die Nasionale Parke Raad. Ek is voormalige president van die Heidelberg Gholfklub en was ook betrokke by Heidelberg Besigheidskamer, Historiese Vereniging, Kommandoraadslid, Leërgimnasium, Valskermsoldatebond en ’n trotse draer van die Suider-Afrika en Pro Patriamedaljes. In 1991 het ek op die Stadsraad gedien en daarna op die Oorgangsraad.

Wat maak ’n goeie leier?

Om te luister na jou personeel is belangrik, maar ook lojaliteit, getrouheid en eerlikheid.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek is baie lief vir die natuur en geniet dit om te gaan jag. Ons reis ook graag en tussenin lees ek baie, veral oor geskiedenis en historiese gebeurtenisse. Ek speel ook baie graag gholf, maar kan na my onlangse skoueroperasie eers weer in September begin speel.

Waar is jou gunsteling vakansieplek?

Elke reis is spesiaal. Ek is lief vir Europa en Italië, maar hou die meeste van Suid-Afrika.
Voor Covid het ons as ’n familie op die MS Johann Strauss plesierboot gevaar, wat ’n lieflike belewenis was. Ons was in Nederland, Switserland en het Strasburg, waar my familie in 1723 vandaan gekom het, ook besoek.

Hoe sal jou vriende of familie jou in drie woorde beskryf?

Volgens my personeel: regverdig, lojaal en nederig.

Wat weet die gemeenskap nie van jou nie?

Ons steek almal goed weg. Praat nie daaroor nie – grapsgewys.

Hoe het die pandemie die makelaars industrie affekteer?

Dit het ons glad nie beïnvloed nie.

Wat is jou gunsteling kos?

Seekos, maar ek geniet enige maaltyd.

Wie is jou rolmodel?

Ek het verskeie rolmodelle volgens my belangstellings. Ek glo nie maklik dinge slegs op sig nie en doen my eie navorsing voordat ek ’n opinie uitspreek.

As jy een ding kan verander in die wêreld, wat sou dit wees en hoekom?

Ek glo nie daar is slegte mense nie, mense doen wat hulle dink is reg. Ek vat dinge soos dit is.

As ek iets kon verander sal dit meer regverdige verdeling van welstand wees en so mense wat honger is en koud kry kan help. Ek sal ook graag meer werk wil skep en korrupsie wou wegmaak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button