Volkies kry blou plaatjie vir erfenis
Gedurende die Anglo-Boereoorlog in die 1900’s moes die NG Kerk gemeente verantwoordelikheid aanvaar vir 28 weeskinders uit die konsentrasiekamp naby Heidelberg.
Die enigste skool wat hierdie kinders kon besoek, was die staatskool, gehuisves in ’n gebou wat voor 1900 deur die gemeenskap opgerig is. Die enigste taal van onderrig was Engels en onderrig in Godsdiens was heeltemal op die agtergrond geskuif.
Baie ouers het beswaar gemaak om hul kinders in so ’n skool te laat onderrig, maar bo alles was die gedagte ondraaglik om die 28 weeskinders, wie se ouers alles op die altaar van vryheid opgeoffer het, daarheen te stuur.
Met groot geesdrif en onder leiding van ds AJ Louw was daar in 1903 besluit om ’n onafhanklike skool in Heidelberg te stig, met die 28 weeskinders as kern. In die begin was die hoofklaskamer van hierdie skool die kelder onder die kerk, in daardie dae bekend as die grot van Adullam. Hieruit het die opvoedingsinrigtings van Heidelberg gegroei: Laer Volkskool, Hoër Volkskool en die Onderwyskollege.

Die kelders het met tyd oorvol begin raak en die spasie vir die kinders was net te klein.
In 1905 het Frederik J Bezuidenhout ’n stuk grond aan die kerk geskenk met die doel om ’n skool te bou. Frederik se broer, Willem WJ Bezuidenhout, en hulle swaer, Cornelius FJ Meyer, het later aangebied om die skool te bou en finansier.
Die skoolgebou het in 1907 oopgemaak as Laer Volkskool en twee jaar later in 1909 was Theo Dönges as die eerste hoof van die skool aangestel.
Met die oprigting van die Volkskool gebou was daar in die voorste gedeelte ’n monument opgerig as ’n blywende nagedagtenis aan die 867 mans en vroue wat in die Heidelberg-distrik tydens die oorlog omgekom het.

Die area, wat vandag nog bekend is as die Gedenksaal, is ’n monument van daadkrag en welwillendheid van mense wat geglo het aan Christelike nasionale opvoeding en ook ter herhinnering aan die wat in die Heidelberg-distrik tydens die oorlog gesneuwel het.
Die geskiedkundige skool het op 9 Junie hulle blou erfenisplaatjie gekry, wat deur die skool self geborg is.
Piet Strydom, wat vir die afgelope 10 jaar die hoof is, het gesê: “Ons is trots op die geskiedenis van die skool wat eintlik deur die gemeenskap gestig is. Die gemeenskap se bystand deur die jare dra ons en gee die skool die geleentheid om uit te blink.”

Die volgende erfenisplaatjie word aan die Klipkerk toegedien en sal op 18 Junie om 12:00 plaasvind.
Kontak Tony Burisch by 072 460 9663 vir meer inligting.





