‘Alles is weer mooi en helder’ sê Rensburg inwoner na oogoperasie
Sedert die pandemie begin het, het die ATKV Heidelberg-tak meer op welsyn gefokus en sodoende tot hulp van Rensburg inwoner Yvonne Buys (65) gesnel deur te help met ’n operasie om katarakte te verwyder.
Yvonne het ’n jaar gelede sig in altwee oë haar as gevolg van katarakte verloor. Sy is ’n weduwee en het nie die fondse gehad vir die operasie nie.
Fred Calitz, die ondervoorsitter van ATKV Heidelberg-tak, het te hore gekom van Yvonne se probleem en besluit om haar te help.
“Dit was vir ons ’n voorreg om Yvonne te kon help en is dankbaar teenoor ons lede wat dit moontik maak vir ons om ons medemens in nood te help,” het Fred gesê.
Yvonne het vertel: “Ek het vir meer as twee jaar ’n stryd gevoer met my oë. Omdat ek nie die fondse gehad het vir ’n privaat dokter nie, het die staatshospitaal my op ’n waglys gesit en my oë het intussen bly verswak.
“Ek het van ’n oogarts in Vanderbijlpark te hore gekom wat bereid was om die operasie te doen teen ’n aansienbare lae koste, maar steeds kon ek dit nie bekostig nie. Ek was moedeloos en het myself daarmee begin vereenselwig dat ek nie meer sig sal hê nie.

“Fred het my gekontak en ingelig dat hulle my graag wil help. Ek was so verbaas, maar dank die Here elke dag dat Hy sulke engele op my pad gestuur het.”
Met die hulp van die ATKV Heidelberg-tak en die oogarts se liefdadigheid, kan Yvonne weer uit altwee oë sien.
“Ek is dankbaar teenoor die oogarts en die ATKV Heidelberg-tak vir hulle bydra. Alles is weer mooi helder en duidelik,” het Yvonne vertel.
Francois Furstenburg, ATKV Heidelberg-tak voorsitter, het gesê: “Dit was vir ons ’n eer en voorreg om Yvonne te kon help en wil graag ons dank betuig teenoor al ons getroue lede wat dit vir ons moontlik maak.”
Inwoners wat belang stel om by die ATKV aan te sluit, kan Francois by 083 227 1522 of Fred by 082 924 7843 skakel.



