Local newsNews

Van Belkum-saal ontvang blou erfenisplaatjie

Die Van Belkum-saal by die Nederduitse Hervormde Kerk in Voortrekkerstraat het op 25 Junie die agtste erfenisplaatjie ter ere aan die historiese geskiedenis van die perseel ontvang.

Die saal was oorspronklik die eerste Nederduitse Hervormde Kerk en Van Warmelo was die eerste predikant.

Die kerk was in 1889 deur die die gemeentelede gebou wat nie ineenstemming was met die bou van die Klipkerk nie. Van Warmelo het gedurende sy dienstydperk probeer om die verskille en omstredenheid tussen die NH Kerk en NG Kerk (Klipkerk) te oorkom.

In 1904 was Jac van Belkum as predikant tot die NH Kerk beroep. In die vyf jaar voor Van Belkum se koms na Heidelberg, het die verskrikkinge van die Tweede Vryheidsoorlog die gemeente swaar getref.

Op die plase was byna al die huise afgebrand en verskeie manslidmate het hulle lewe op die slagvelde verloor. Die vroue en kinders was in konsentrasiekampe, waar baie omgekom het. Die toestand wat Van Belkum op Heidelberg aangetref het, was treurig. Die geestelike bearbeiding het ’n geruime tyd stilgestaan.

Die gemeentelede was deur die oorlog uitgeroei of verarm, en die stemming was alles behalwe opgewek.
Daar het ook ’n swaar geldelike skuld op die gemeente gedruk as gevolg van ’n pastorie wat vir Van Belkum se voorganger in 1897 aangekoop was.

Jac van Belkum na wie die saal vernoem is en wat die leeraar by die Nederduits Hervormde Kerk was vanaf 1903 tot 1927.

Die geldelike toestand en die onenighede met die Klipkerk wat steeds nie opgelos was nie was ’n groot struikelblok gedurende Van Belkum se dienstyd. Sy aard was nie om geld te kollekteer nie, maar om geestelike en intellektuele werk te doen.

Van Belkum was die grondlêer van kerklike joernalistiek in die NH Kerk. In September 1899 het hy eiehandig begin met die kerklike maandblad, Die Hervormer.

In Februarie 1927 was Van Belkum vir 50 jaar predikant. Beskeie soos hy was, wou hy dié dag onopgemerk laat verbygaan, maar die predikante het tog kennis daarvan geneem en Die Hervormer het ’n uitgawe hoofsaaklik aan hom gewy.

In dieselfde jaar het hy sy emeritaat gevra en op 16 Oktober het hy in die aand in ’n stampvolle kerk sy afskeidspreek gehou. Sy tekswoorde was Handelinge 20:32. Die Dié preek het in druk verskyn.

Van Belkum het vanaf 1903 tot 1927 as leeraar gedien by die NH Kerk.

Die saal is in 1933 na hom vernoem.

Die erfenisplaatjie is deur Pierrie en Kristelle Cronjé geborg wat al meer as 20 jaar gemeentelede is.

“Dit is wonderlik om ons geskiedenis so vir ons nageslag te bewaar,” het Arrie Vorster, skriba gesê, tydens die plaatjie se onthuldiging.

Indien jy weet van ‘n historiese perseel in Heidelberg of as jy ‘n blou plaatjie wil borg, kontak Tony Burisch by 072 460 9663.

Die Van Belkum-saal wat na die kerkvereniging in 1889 gebou is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button