Leer ons mense ken – Piet Strydom
Piet Strydom (60) is vir 11 jaar al hoof van Laer Volkskool. Hy is getroud met Ina en hulle woon ook vir die afgelope 11 jaar in Heidelberg.
Die egpaar het twee seuns en drie kleinkinders. HERAUT het by hom gaan inloer kort na sy 60ste verjaarsdag om die hoof beter te leer ken.
Waar het jy grootgeword, skool gegaan en studeer?
Het groot geword in Bloemfontein. Gestudeer in Potchefstoom.
Gee ’n kort beskrywing van jou loopbaan in die onderwys tot en met jou aanstelling as die hoof van Laer Volkskool.
Ek het begin skoolhou in Witbank by Laerskool Kragbron. Daarna departementshoof by Laerskool Handhawer en toe adjunkhoof by Laerskool Risiville in Vereeniging.
Hoekom het jy onderwys as beroep gekies?
Onderwysers wat vir my skoolgehou het en lewens verander het, het my laat besluit om dieselfde rigting in te slaan.
Hoe gaan jy te werk om uitdagings te hanteer?
Hanteer dit met ’n positiewe gesindheid. Ons het ’n verantwoordelikheid om uitdagings so te hanteer dat ons mense en die gemeenskap altyd op ’n beter plek plaas.
Wat is die langtermynplanne of doelwitte vir die skool?
Inskerping van vaardighede soos lees en reken, gelukkige personeel, tegnologiese toerusting en vaardighede vir ons kinders en ’n opvoedkundigesentrum wat dienste verskaf soos terapeute vir die gemeenskap.
Wat is jou benadering ten opsigte van dissipline in ’n skool?
Positiewe dissipline is gebasseer op verhoudings. Verhoudings moet van so ’n aard wees dat geen persoon iets wil doen wat ander persone teleur stel nie. Almal van ons wil graag erkenning hê en ’n plekkie in die son. Gee om vir mense.
Hoe sal jy jou bestuurstyl beskryf?
Idealistiese realis. Wees ’n deelnemer en ’n speler. Wêreld het genoeg toeskouers wat kan kritiseer, maar bang is om betrokke te raak.
Wat sal jou boodskap aan die personeel van die skool wees?
Maak elke dag ’n beter plek vir elkeen met wie ons in aanraking kom. Wees daardie persoon wat die dag en die lewe mooi maak vir almal met wie ons kontak het. Skep hoop.
Sport en kultuur speel ’n belangrike rol in elke skool. Dink jy daar word vandag nog genoeg klem gelê op die akademie?
Baie beslis. Ons moet egter waak om nie so pretasie-gedrewe te raak dat ons, ons kinders se pogings om te probeer miskyk nie. Daar moet baie meer klem gelê word op die poging om aanhou te probeer, as top prestasies. Persone wat geleer het om altyd weer te probeer is baie meer suksesvol in die samelewing. Deurstettingsvermoe is die sleutel tot sukses.
Wat doen jy om te ontspan en waar hou jy graag vakansie?
Ek is baie lief vir lees en see-vakansie.
Wat is jou gunsteling kos?
Afval gekook soos deur my skoonma.
Wat weet die gemeenskap nie van jou nie?
Ek is ontsettend lief daarvoor om vir ’n stormagtige see met reusagtige branders te sit en kyk.
Die skool is besig met verbeterings op die skoolterrein, brei asseblief uit daaroor.
Ons is besig om twee klasse aan te bou met ’n personeelkamer op die tweede verdieping. Ons personeel het nog nooit werklik ’n personeelkamer gehad nie. Dit word gedeoen met die ondersteuning van die onderwysdepartement, waarvoor ons baie dankbaar is. Ons is ook besig om ons rekenaarsentrum op te gradeer, waar robotika asook kodering deel van die klasse sal wees.
Wat is jou boodskap aan leiers van die toekoms?
Ons moet die ingesteldheid van mense verander. Dit is belangrik dat ons mense bewus maak van respek en integriteit. Meer reëls is nie die oplossing nie. Ons moet ’n gemeenskap skep waarin mense gedryf word na respek, integriteit en die doen van die regte ding.



