Toe Rina van Coller (74) (beter bekend onder HERAUT lesers as Mamma Heraut) se man in 2020 gesterf het, het sy gedink sy sal nooit weer lag of liefhê nie.
Verlede jaar moes sy haar man begrawe, sy het die tuig by HERAUT neergelê, haar groot huis verkoop en na Gemoedsrus Aftreeoord verhuis.
Haar dogter Karen Schoonraad het egter besluit haar ma gaan nie van eensaamheid wegkwyn as sy iets daaraan kan doen nie.
By Turfmaster in Nigel waar Karen werk, was ‘n net so eensame wewenaar en gou-gou het sy gereël dat mamma en oom Butch Green (76) by mekaar uitkom om Rummikub te speel en die eensaamheid hok te slaan.
In Nigel is Butch Green bekend as voormalige hoof verkeer- en lisensiebeampte. Na sy uittrede daar het hy by Turfmaster gewerk tot en met sy aftrede einde Mei vanjaar.
Op 13 Junie het Butch en Rina op haar verjaarsdag getrou en hulle geluk gedeel met ‘n ete vir die bruilofgaste by Picanha in Nigel.
“Ons is nou niks bang vir enige fase van inperking tydens die Covid pandemie nie. So lank as wat ons gespaar bly, sal dit ons lewenstaak wees om mekaar gelukkig te maak en te waardeer,” het Rina gesê.



