
“Ek hou baie daarvan as my hare mooi lyk en kan myself indink hoe iemand moet voel wat hul hare tydens chemo verloor het,” het Ardia Ferreira gesê.
Sy het 25cm van haar poniestert afgesny om aan die Cansa te skenk.
Ardia het haar hare van graad vier af laat groei en het tot onlangs ’n lang poniestert van ongeveer 40cm gehad.
“Ek wou graag ’n verskil maak en ’n bydra lewer sodat iemand beter oor hulself en hul voorkoms voel,” het Ardia gesê.
Sy het vertel dat haar familie ook al geliefdes aan kanker afgestaan het.
Die tiener het gesê ’n verandering is so goed soos ’n vakansie en dat sy voel ligter nadat meer as die helfte van haar poniestert afgesny is.

“Ek is mal oor my korter hare, dit krul ook makliker,” het sy gesê.
Sy is gereed om haar hare weer te laat groei en hoop om nog so ’n verskil te kan maak in die toekoms.
“Jong mense kan op baie maniere ’n verskil maak. Dit hoef nie in die vorm van geldelike bydraes te wees nie. As mens net opreg omgee vir jou medemens sal jy altyd ’n manier vind om te help,” was Ardia se raad aan jongmense.
